“Hier ry ons ‘offroad”: Paulstraat se inwoners al keelvol vir slaggate en waterlekke
Daar is dele van Paulstraat waar daar omtrent geen teer oor is nie, net gate.
Petrus Viviers, ‘n Potchefstromer wat al 20 jaar in Paulstraat woon, draai nie doekies om as hy oor die gebrekkige toestand van sy straat praat nie.
“Hier ry ons offroad,” noem hy.
Viviers het slaggate reg voor die oprit van sy huis wat dit baie moeilik maak om in te ry.
“Dit was oorspronklik ‘n waterlek wat ons naderhand self reggemaak het. Dit het weer begin lek en die munisipaliteit het dit net toegegooi. Dit is al vir ses of sewe jaar so.”
Verder sê Viviers dat daar met die uitsondering van die hoek van Paul- en Beyers Naudéstraat, nog nooit deur die munisipaliteit aan slaggate gewerk is nie.
“Na een van die groot reënbuie het ‘n trok daar deurgery en walle gegooi, so dit sal seker weer een of ander tyd slaggate word. Die pad is onbegaanbaar,” merk Viviers op.


Johan Zerwick, DA raadslid van Wyk 4 waarin Paulstraat geleë is, vertel dat die straat al vir meer as ‘n dekade op die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) geoormerk is.
“Die straat is al in so ‘n toestand dat dit nou al moeliker word vir herstel,” noem Zerwick.
Zerwick sê dat die wykskomitee Paulstraat al sedert 2011 op hul Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) sit vir die herstel, asook vir moontlike herbouing van die pad. Tot nou toe het hulle nog geen sukses daarmee behaal nie.

Verder sê Zerwick dat byna permanente waterlekke wat nie vinnig herstel word nie, tot die swak toestand waarin die pad tans is, bydra. Daar is dele van Paulstraat waar daar omtrent geen teer oor is nie, net gate. Daar is ook ‘n diep sloot wat dwars oor die straat loop wat dit gevaarlik maak vir kleiner karre om te ry. Motoriste kan ook maklik skade aan hul voertuie kry weens die swak toestand van die pad.
*Die munisipaliteit het teen druktyd nog nie terugvoer gegee nie.








