Local newsNewsNews

Borg ‘n Boom en wys jou kleure vir Gimmie-Volkie derby

Hierdie jaar beoog die belangegroepe om 400 bome te versier as deel van die Gimmie-Volkie Eikelaan Geesbaan.

Die opgewondenheid is hoog vir die opkomende Gimmie-Volkie Classic Clash-sportnaweek wat vanaf 26-27 Mei vanjaar plaasvind.

Om hierdie geleentheid weer ekstra woema te gee word die Borg ‘n Boom-projek deur die Potchefstroom Sakekamer, in samewerking met Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom vanaf 3-20 Mei aangebied. Dit was verlede jaar alreeds ‘n reuse sukses en die hoop is dat dit vanjaar nog groter gaan.

Hierdie projek is in 2022 geloods met die doel om ʼn “Eikelaan-Geesbaan” te skep om die skole en gemeenskap tydens die immergewilde Gimmie-Volkie Derby bymekaar te bring en samewerking aan te moedig, asook om fondse vir die onderskeie skole en Eikeboomlaning Vereniging in te samel.

Die rolspelers beoog om hierdie jaar groot te gaan met die projek deur ouers en besighede aan te moedig om ʼn boom te borg sodat die eikebome vanaf Potchefstroom Gimnasium tot by Hoër Volkskool met die onderskeie skole se korporatiewe kleure versier kan word.

“In 2022 het die projek gesorg vir 200 geborgde bome en het dit beslis ʼn positiewe impak in die erfenis van die historiese eikelaan meegebring. Daar is ʼn totaal van R22 000 aan die Eikeboomlaning-komitee oorhandig en 10 eikebome is tydens die Nasionale Boomplantweek geplant. Hierdie jaar beoog die belangegroepe om 400 bome te versier,” sê Juanita Smit, voorsitter van die Potchefstroom Sakekamer.

Geesdriftige ondersteuners, ouers en besighede kan betrokke raak deur ʼn boom teen R450.00 te borg om versier te word.

Borgskappe kan tussen 3-20 Mei by die onderskeie skole of die Potchefstroom Sakekamer bespreek word.

Die fondse wat ingesamel word, sal ten bate van die skole, Eikeboomlaning vereniging en die Sakekamer aangewend word.  Op Maandag 22 Mei, wat die afskop van die Volkie-Gimmie Classic Clash-week is, sal die twee skole en die Sakekamer mekaar simbolies in die middel van die “Geesbaan” by die Snowflake ontmoet.

Daar sal ʼn seremonie saam met die hoofde, die kapteine van al die eerste spanne wat gaan deelneem, die bestuur van die Sakekamer, asook die media wees.

Hierdie projek is net een van die vele inisiatiewe wat die Sakekamer en beide Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool aanpak om sodoende die jaarlikse Derby na nuwe hoogtes te neem. Johan Janse Van Rensburg, Sakekamer Bestuurslid, sê dat daar geen rede is waarom hierdie Derby nie ook onder een van die grootstes in die land beskou kan word nie.

“Vir die betrokkenes is gesonde kompetisie en uitmuntende sportmangees nie net op die veld belangrik nie, maar ook onder ondersteuners en alumni. Daarmee saam is dit ʼn feit dat skole en dorpe se voortbestaan en kwaliteit nie van mekaar geskei kan word nie. As ons nie hande vat en Potchefstroom as een van die beste onderrigbestemmings bemark nie, verloor ons nie net ʼn bemarkingsgeleentheid nie, maar ook ʼn geleentheid om die beste vir die jeug te bied.”

Die Potchefstroom Sakekamer versoek die gemeenskap, besigheidslede, asook die alumni van albei skole, om hierdie inisiatief te ondersteun.

Ouers en besighede kan deur die skool van hulle keuse ʼn boom bespreek, of alternatiewelik kan die Potchefstroom Sakekamer gekontak word om ʼn boom te bespreek by 071 608 8775.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button