Volkies-leerder kook met eerste plek in Roots-kompetisie
“Na ek die geleentheid gekry het om deel te neem aan die kompetisie en gewen het, het ek besef die Here het vir my ‘n deur oop gemaak om te doen wat my hart werklik begeer.”
Haley Welgemoed, ‘n Gr. 12 leerder in Hoër Volkskool Potchefstroom, het op 6 Mei ‘n eerste plek behaal in die Leerders-kompetisie wat Roots Potchefstroom aangebied het as ‘n deel van hul ope-dag.
Ruben Grobler, ‘n leerder in Klersdorp Hoërskool (KHS), was Welgemoed se spanmaat en het
saam met haar eersteplek behaal.
Welgemoed wou al van Graad vyf af ‘n sjef word.
“Dit was my grootste droom,” sê sy. “Ek het al op ‘n stadium begin sketse maak van hoe ek my restaurant wou gehad het, maar dit het nie so goed uitgedraai nie.”
Welgemoed het by Volkies gehoor van ‘n ope-dag by Roots, en toe sy die program ontvang is daar aangedui dat ‘n leerder-kompetisie aangebied gaan word. Welgemoed het besluit om deel te neem en is glad nie spyt nie.


“Na ek die geleentheid gekry het om deel te neem aan die kompetisie en gewen het, het ek besef die Here het vir my ‘n deur oop gemaak om te doen wat my hart werklik begeer.”
“Om te eksperimenteer met resepte is vir my ongelooflik lekker,” sê Welgemoed, “Wie weet, dalk ontdek jy ‘n nuwe gereg.”
Die kompetisie het bestaan uit drie werkswinkels waaraan almal moes deelneem. Die eerste werkswinkel het deelnemers geleer hoe om ‘n mocktail te maak.
“Dit was baie interessant,” sê Welgemoed, “Ek het nie eers geweet jy kry ‘n mocktail nie.” By die tweede werkswinkel het die deelnemers ‘n brioche gemaak en versier. Die derde werskwinkel het gefokus op gebak, waar die deelnemers ‘n roos moes maak.
“Hulle noem dit ‘chocolate plastic’,” sê Welgemoed, “Die sjokolade het gesmelt terwyl ek met dit gewerk het en my hande was baie taai.”
“Ek moet sê ek het eintlik baie gestres,” merk Welgemoed op. “My hande het gebewe, ek het angstig geraak en ek is glad nie seker of ek baie gepraat het nie, want ek kan nogal praat as ek stres. My Gasvryheidstudie onderwyseres, Mardine Meyer, het net die heeltyd vir my gesê ek moet rustig raak. Na alles het ek besef dat dit onnodig was om te stres.”
Welgemoed het op die ou einde die kompetisie baie geniet, en sal dit aanbeveel vir ander.




