Potchefstroomse Sweeftuie maak skoonskip in Duitsland
In die 18 meter klas het Jonker Sailplanes se JS3’s onder meer die eerste twee plekke in die 55ste Hahnweide-byeenkoms in Duitsland vanaf 13-20 Mei, ingepalm.
Tydens die jaarlikse Hahnweide Sweeftuig-kompetisie van 13 tot 20 Mei 2023 in Stuttgart, Duitsland, het Jonker Sailplanes se JS3 sweeftuie, wat in Potch vervaardig word, puik presteer.
In die 18 meter klas het die JS3’s onder meer die eerste twee plekke in die 55ste Hahnweide-byeenkoms, ingepalm. Peter Millenaar van Nederland en Jürg Haas van Switserland neem die eerste en tweede plekke onderskeidelik. Die derde plek (Andrew Davis van Groot Brittanje) is ingeneem deur ‘n ouer JS1 model, ook uit die stal van Jonker Sailplanes. Om sout in die wonde van mededingers te vryf, was die 4de tot 6de plekke almal JS3 sweeftuie.



Die jaarlikse Hahnweide kompetisie naby Stuttgart in Duitsland, is een van die grootste byeenkomste in Europa. Deelnemers vanoor die hele Europa as ook ander lande in die wêreld neem deel. Vanjaar het 95 deelnemers in 5 klasse deelgeneem. In die 18 meter klas was daar 30 deelnemers en Uys Jonker, die enigste deelnemer uit SA, het ‘n verdienstelike vyfde plek behaal.
Jonker Sailplanes (JS) het hulle eerste sweeftuig, die JS1, in 2006 bekend gestel. Twee weke na die nooiensvlug neem dié sweeftuig deel aan die Suid Afrikaanse sweefkampionskappe in Bloemfontein en tot almal se verbasing, wen dit die kompetisie. Sederdien groei die besigheid danksy toegewyde, harde werk van elke personeellid. ‘n Span puik jong en minder jong ingenieurs sorg met deurlopende navorsing en ontwikkeling dat JS op die voorpunt van die wêreld se sweeftegnologie bly. Daar is tans ongeveer 140 werkers en ingenieurs in diens by JS.

Dié Potchefstroomse onderneming is tans die grootste sweeftuigvervaardiger in die Suidelike Halfrond en een van die drie grootstes in die wêreld. Tans word daar ongeveer 40 tot 45 sweeftuie per jaar gebou wat hoofsaaklik aan buitelandse klante verkoop word. Op hierdie stadium word hoofsaaklik JS3’s vervaardig waarvan daar alreeds 175 suksesvol getoetsvlieg en aan nuwe eienaars oorhandig is, 34 is in verskillende stadiums van vervaardiging en daar is nog 15 op bestelling.




