Local newsNewsNews

Prematuurbaba se wedloop met geestelike wonderwerke gevul

Isabella de Beer, wat op 25 weke gebore is, se geloofsverhaal is een vol wonderwerke na sy 92 dae in die hospitaal deurbring.

‘n Potchefstroomse paartjie het nie net ‘n wedloop van volharding in geloof saam met hul prematuur babadogtertjie wat op 25 weke gebore is, aangepak nie, maar ‘n geestelike Ystermanresies saam met die Here voltooi.

Na 92 dae in Mediclinic Potchefstroom se intensiewe sorgeenheid kon klein Isabella de Beer, uiteindelik op Dinsdag, 6 Junie, saam met haar ouers, Mighael en Dalene de Beer, huis toe gaan.

Dit was ‘n emosionele oomblik vir die De Beer’s wat die Here se hand in alles sien – veral hoe Isabella met die krag van gebed en geloof alle struikelblokke in haar pad oorkom en aanhou veg het.

Isabella, wat op 7 Maart vanjaar gebore is, het vier dae na haar geboorte ‘n groot terugslag gehad toe haar hart twee keer gaan staan het. Sy was ook dieselfde dag amper dood toe sy nie asem kon haal nie. Beide kere kon dokters en verpleegsters haar red.

“Om te sien hoe haar velkleur verander, dit ruk ‘n ou. Op daardie oomblik weet mens nie wat om te doen nie. Maar keer op keer het die Here deurgekom,” sê Mighael terwyl sy oë rooi raak.

“Vandag (Dinsdag, 6 Junie) sou Dalene se keisersnit gewees het, nou is Isabella ook uit die hospitaal so die tydsberekening is ongelooflik. Ons is deur so baie met haar. Dit tap ‘n mens fisies, emosioneel en geestelik en mens verstaan dit nie in daardie situasie nie. Net so bly soos ons nou is om haar huis toe te bring, was daar ook tye waar dit donker was en ons nie geweet of sy dit sou maak nie,” vertel Mighael.

By haar geboorte het Isabella ‘n skrale 820 gram geweeg en moes vir 11 weke op suurstof wees. Verder het sy ook ‘n gaatjie in haar hart gehad (PDA – Patent Ductus Arteriosus) wat nie wou toegaan nie. Dokters het bevestig dat sy ‘n operasie sou moes ondergaan as die gaatjie nie met medikasie sou herstel nie. Na baie gebede regoor die wêreld het die gaatjie wonderbaarlik sonder ‘n operasie toegegaan.

“Ons het ‘n ongelooflike ondersteuningsnetwerk gehad waar almal net gebid het vir Isabella. Mense wat ons nie eers ken nie uit verskillende lande. Ons is net so dankbaar,” vertel Mighael.

Twee opgewonde ouers, Dalene en Mighael de Beer, saam met hulle prematuur babadogtertjie, Isabella, wat op Dinsdag, 6 Junie na 92 dae in Mediclinic Potchefstroom, uiteindelik huis toe kon gaan. Foto: Wouter Pienaar.

Van al die getuienisse wat hierdie paartjie vertel is die aangrypendste een sekerlik toe Dalene se water breek en Mighael op daardie stadium in Port Elizabeth was om aan die Ysterman-halfmarathon saam met sy vriende deel te neem.

“Ons het vir 6 maande lank geoefen toe bel Dalene se pa my en noem dat haar water vroeg gebreek het. Ek was op die punt om deel te neem. Ek onthou ek moes my deelnamebandjie afhaal en die eerste vliegtuig terug bespreek. Dit was regtig erg gewees en ek kon nie verstaan wat gaan aan nie, my emosies was orals. Ek het die Here gevra om net vir my stilte te gee op die vliegtuig terug,” onthou Mighael.

Soos dinge sou uitdra het die Here ander planne gehad wat die katalisator van ‘n geloofsreis begin het. ‘n Vrou, Annetjie, het langs Mighael op die vliegtuig gesit en vir hom, sy vrou en Isabella gebid. Mighael het ‘n bo-natuurlike rustigheid gekry en ook in die proses geweet wat hy sy kind sou noem.

“Op daardie stadium het ons nog nie ‘n naam vir Isabella gehad nie. Toe sy vir my bid toe wou sy weet wat haar naam is toe sê ek ons besluit nog oor Isabella. Sy het toe gesê dit is haar naam. Isabella beteken ‘belofte van God’ so dit is eintlik so gepas. Annetjie het vertel dat sy 400 gram by geboorte geweeg het (as deel van ‘n tweeling) en dit gemaak het. So dit was regtig bemoedigend. Ek het nooit van te vore die Here so tasbaar ervaar nie,” noem Mighael.

Dit was vir Dalene ook ongelooflik om te sien hoe haar man die situasie hanteer toe hy haar sien met sy terugkoms in Potchefstroom.

“Ek en my pa het gebid en ek het ‘n bo-natuurlike vrede ervaar. Mighael het ingekom my gegroet, sy hand op my maag gesit en gesê “die Here gaan aan elke behoefte voorsien.” Hy het sy rol as koning, priester en profeet van ons gesin opgeneem en dit was eenvoudig om hom te volg,” vertel Dalene.

Net soos ‘n regte ystermanwedloop was daar baie moeilike tye waar albei se energie uitgeput was. In hulle leegheid en hartseer, was daar altyd hoop omdat hulle ‘n eenheid was saam met die Here.

Daar was ‘n erewag vir Isabella en haar ouers by Mediclinic Potchefstroom. Foto: Verskaf.
Mighael en Dalene de Beer saam met Isabella en haar ouer boetie, Christiaan.

“Daar waar ons was en by die Here se voete gebly het, het almal saam gebid vir ons. Mense uit 15 lande het ook vir Isabella gebid. Ons het ook vir ‘n week gevas veral toe Isabella dalk vir operasie moes gaan. Dit is ongelooflik hoe alles funksioneer, sy het geen skade opgedoen nie en nou is sy al 2.8 kilogram. Alles is nou normaal,” noem Dalene.

“Daar is soveel mense wat ons wil bedank binne en buite die hospitaal wat saam met ons gebid het, ons bemodig het en ons hoop dat Isabella se getuienis ander sal inspireer en kan bemoedig. ‘n Mens dink mens sal dit nie kan hanteer nie, maar die Here dra ‘n mens. Hy bewys daagliks hoe goed Hy is,” sê Mighael.

Die paartjie bedank al die dokters, verpleegsters en personeel by MediClinic Potchefstroom wat saam met hulle hierdie 92-dae reis aangepak het.

Dit was gepas dat Isabella en haar ouers ‘n spesiale erewag van die personeel gekry het – by die eindstreep na sy haar eerste wedloop saam die Here in geloof voltooi het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button