Gemeenskap in Bailliepark staan saam om waterlekke op te los
Altus Klingenberg, ‘n lid van BPGP, het die saak aangedryf tot herstel omdat hy, en alle Baillieparkers, gegrief was deur die vermorsing van skoon water.
In Julie is die erge waterlek in Rocherstraat herstel, maar dit blyk net die oortjies van die seekoei te wees.
Anne van Onselen, wyksraadslid in wyk 3, het die aand van 14 Julie opgemerk dat water op die hoek van Rocher- en Richardson straat begin afstroom.
Van Onselen het dadelik die volgende oggend, 15 Julie, die munisipaliteit laat weet, en uitgevind dat die waterklep lek, en nie die pyp self nie.

“Ek het gevra dat die munisipaliteit dit asseblief herstel, want dit was weer ‘n onnodige vermorsing van skoon, gesuiwerde water,” sê Van Onselen.
Die Bailliepark Gemeenskapsprojek (BPGP) het 20 Julie vergader en onderneem om die nodige materiaal aan J.B. Marks te verskaf sodat herstelwerk kan begin.
Daar word beweer dat onderskeie infrastruktuur departemente by die munisipaliteit nie die nodige materiaal het om herstelwerk te kan doen nie.
Altus Klingenberg, ‘n lid van BPGP, het die saak aangedryf tot herstel omdat hy, en alle Baillieparkers, gegrief was deur die vermorsing van skoon water.

“Vervoer blyk ‘n probleem te wees by alle Infrastruktuur departemente,” sê Van Onselen.
“Die verskillende waterspanne het bv net een werkende voertuig wat hul op die oomblik kan gebruik. Ek het selfs aangebied om vir ‘n waterspan vervoer te reël, maar indien die munisipale amptenare nie van hul amptelike vervoer gebruik maak nie, is hul nie gedek indien daar ‘n ongeluk of enige persoonlike skade is terwyl hul werk nie.”
Die BPGP het gereël met Johan Trosello van JJW Loodgieters om die klep te herstel. Op Dinsdag, 8 Augustus was meeste van die herstelwerk aan die lekkende klep voltooi. Daar is egter steeds ‘n kleiner problem wat opgelos moet word, en die mangat is oopgelos tot finale herstelwerk kan plaasvind.
Die mangat is afgespan, en inwoners word gevra om asseblief versigtig te wees aangesien dit ‘n baie diep gat is.

Van Onselen bedank die BPGP en ander vir hul hulp en samewerking, en noem dat Bailliepark inwoners gekontak sal word wanneer finale herstelwerk gaan plaasvind, aangesien die water dan afgesit sal word.
*Teen druktyd het die munisipaliteit nog nie terugvoer verskaf nie.



