Pleegsorg – wanneer ‘n kind verwyder moet word
Susan Fouché, ‘n finalejaar maatskaplike werk student aan die NWU stel ondersoek in na verskeie onderwerpe rondom pleegsorg. Hierdie week skryf sy oor die opsies wat beskikbaar is wanneer ‘n maatskaplike werker by ‘n gesin moet ingryp.

Susan Fouché, ‘n finalejaar maatskaplike werk student aan die NWU stel ondersoek in na verskeie onderwerpe rondom pleegsorg. Hierdie week skryf sy oor die opsies wat beskikbaar is wanneer ‘n maatskaplike werker by ‘n gesin moet ingryp.
Is verwydering van ‘n kind ‘n maatskaplike werker se enigste opsie?
Nee, beslis nie. Indien ‘n maatskaplike werker ‘n kind of kinders in ‘n gesin as “sorgbehoewend” beskou, is daar verskeie opsies wat oorweeg word. Dit hang alles af van die tipe nood waarin die gesin verkeer.
Addisionele dienste kan vroeë intervensiedienste (pogings om te voorkom dat die kind verwyder moet word) of ‘n gesinspreserveringsprogram insluit. Die hof mag ook bepaal dat ‘n kind by sy ouers teruggeplaas word indien daar aan sekere voorwaardes voldoen word. Die hof kan ook beveel dat die ouer professionele berading ondergaan, aan mediasie deelneem, ‘n familie-groep konferensie of ander toepaslike probleemoplossingsforums bywoon. Die hof kan ook beveel dat ‘n kind of ouer aan ‘n professionele assessering deelneem. In ‘n geval waar ‘n kind in die hospitaal opgeneem word, kan die hof beveel dat die kind vir die duur van die ondersoek daar bly indien daar grondige rede is om te vermoed dat die kind mishandel of verwaarloos word.
‘n Persoon kan aangesê word om ‘n spesifieke vaardigheidsontwikkelingsprogram te ondergaan, opleiding, behandeling of rehabilitasie, indien dit nodig mag wees om ‘n kind te beskerm of om die welstand van die kind te verseker. ‘n Hofbevel kan ook uitgereik word vir die verwydering van ‘n persoon vanuit ‘n kind se ouerhuis of dat ‘n spesifieke persoon se toegang tot ‘n kind beperk of verbied word. ‘n Hofbevel kan ook spesifiseer dat ‘n persoon ‘n kind slegs kontak onder die voorwaardes wat deur die hof uiteengesit is. Dit beteken dat die persoon nie die kind buite daardie voorwaardes mag kontak nie (Kinderwet 38 van 2005, Artikel 46).

Ander opsies is ‘n hofbevel wat verkry word dat ‘n dagsorgsentrum sekere ure van die dag na die kind moet omsien wanneer die ouer nie kan nie of dat verskillende versorgers die kind se sorgbehoeftes deel. ‘n Interdik kan ook teen ‘n persoon verkry word indien die hof bevind dat die betrokke persoon die kind mishandel, verwaarloos of degradeer, die verhouding tussen die kind en die persoon die kind se welstand of veiligheid negatief beïnvloed of die kind aan enige gevaar blootstel (Kinderwet 38 van 2005, Artikel 156). In sekere gevalle maak die Kinderwet ook voorsiening vir die verwydering van die beskuldigde indien dit in die beste belang van die kind sou wees (Kinderwet 38 van 2005, Artikel 153).
Vir meer inligting oor die pleegproses of pleegouerskap, kontak N.G. Welsyn, Potchefstroom by 018 297 7347 of potch.admin@ngwelfare.co.za.



