‘Ek is nie as ‘n gestremde grootgemaak nie’
Selouna Visser, gebore en getoë in Potchefstroom, is ‘n maand voor haar tweede verjaardag met Spinaal Spieratrofie (SMA) gediagnoseer. Sy sal graag die publiek se siening van die rolstoel-lewe wil verander.
“My ouers het my glad nie as ‘n gestremde grootgemaak nie. Ek was in hoofstroom skole, en het ook werkies om die huis gehad, ek het ook pakslae gekry.”
So vertel Selouna Visser, gebore en getoë in Potchefstroom, wat ‘n maand voor haar tweede verjaardag met Spinaal Spieratrofie (SMA) gediagnoseer is.
SMA vind plaas wanneer die spiersenuweestelsel nie reg funksioneer nie, wat beteken boodskappe vanaf jou brein word nie herlei na jou ledemate nie. Selouna se ouers, Johan en Roma Visser, is beide draers van SMA.
“Daar is drie goed wat kan gebeur wanneer jou ouers draers is,” verduidelik Selouna. “Jy is glad nie ‘n draer nie, jy is 25% ‘n draer, jy is 75% ‘n draer, of jy het SMA.”
“Nadat ek gediagnoseer is met SMA, het dokters my ouers aangeraai om mooi te dink of hulle nog kinders wil hê. ‘n Week later het my ma uitgevind sy is swanger met my sussie. Ek het die kondisie en my sussie is glad nie ‘n draer nie.”
Selouna is op 24 Julie 1995 in Potchefstroom gebore en was in Asjassies Kleuterskool. Daarna is sy Laerskool President Pretorius toe, en het haar skoolloopbaan by Hoërskool Ferdinand Postma voltooi. Op sewejarige ouderdom het Selouna vir die laaste keer geloop.
“Mense vra my altyd of ek nog kan onthou hoe dit gevoel het om te loop. Ek kan nog so effens onthou, maar dit moes baie seer gewees het. Ek moes soms met stutte loop,” vertel sy.
Tans is Selouna ‘n permanente personeellid van die Noordwes Universiteit se Potchefstroom kampus. Selouna het B.Sc Inligtingstegnologie by die NWU studeer en die graad met ‘n onderskeiding voltooi. Sy het dit opgevolg met ‘n B.Sc honneursgraad in Rekenaarwetenskap en Inligtingstegnologie. Tans is sy besig om ‘n Meestersgraad in Rekenaarwetenskap te voltooi, en sal graag in Data Ingenieurswese wil spesialiseer. Weens die SMA waaraan Selouna ly, het sy twee tipe skoliose ontwikkel.
“Ek het ‘n erge S-kurwe en C-kurwe in my rug,” vertel Selouna. “My organe word saamgepers as gevolg van die skoliose. Op hierdie stadium word my linkerlong die meeste geaffekteer. Ek het net 50% werking daarvan.”
SMA het steeds nie ‘n geneesmiddel nie, maar daar is verskeie medikasie en behandelings om die simptome te vertraag.
“SMA werk so: wat jy verloor het, het jy verloor. Jy kan nie gym toe gaan en die spiere terug-oefen nie. Hoe vroeër mens met behandeling kan begin, hoe beter.”
Daar is emosionele uitdagings wat SMA meebring. Op laerskool het Selouna haar rolstoel gebruik om vriende te maak, maar op hoërskool was sy baie keer op die kantlyn.
“Daar was selfs familie wat my verstoot het nadat ek gediagnoseer is. Dit is die nadeel. Die voordeel is dat ek weet wie in my lewe is, is ware vriende,” glimlag sy.
“My ouers het my glad nie as ‘n gestremde grootgemaak nie,” dink Selouna terug. “Ek was in hoofstroom skole, en het ook werkies om die huis gehad, ek het ook pakslae gekry.”
Selouna is dankbaar dat haar ouers haar so grootgemaak het. Dit het haar geleer om uit die boks te dink. “Ek moet vrede maak daarmee dat ek nooit onafhanklik en op my eie gaan wees nie. Ek gaan altyd ander mense nodig hê om my te help.”
Ten spyte daarvan is Selouna ‘n opgewekte, sprankelende vrou.
Selouna sal graag die publiek se siening van die rolstoel-lewe wil verander.
“Die ‘Me Before you’ film is so ‘n slegte weerspieëling daarvan. Om in ‘n rolstoel te wees is nie ‘n ‘train smash’ nie. Jy kan werk, jy kan ‘fun’ hê.” Selouna sluit af met, “Rolstoele is nie net ‘doom en gloom’ nie. Dit is die boodskap wat ek sal wil uitstuur.”
Die rolstoel wat Selouna tans het is al 10 jaar oud, en is reg om permanent geparkeer te word. Selouna spandeer gemiddeld 17 ure per dag in die rolstoel, en veiligheid en gemak is top prioriteite. Hierdie rolstoele is onbekostigbaar vir die Vissers, en Selouna het ‘n ‘Back a Buddy’ begin om fondse in te samel vir ‘n nuwe rolstoel. Indien jy meer wil weet oor die projek en die Vissers wil help, volg hierdie skakel om meer uit te vind:
https://www.backabuddy.co.za/champion/project/selouna-visser-5599363642312351718