Local newsNewsNews

Maak ‘n verskil en word deel van PAWS se pleegsorgprogram

Die fokus van die pleegsorg program is om hulp van die gemeenskap te gebruik wanneer daar baba hondjies of katjies by PAWS is.

Potchefstroom Animal Welfare Society, beter bekend as PAWS, bedryf ‘n pleegsorg program waaraan Potchefstromers kan deelneem.

Indien jy iemand is wat in ‘n woonstel bly, of in ‘n huis met ‘n klein- of geen erf, is die pleegsorg program ideal vir jou.

Die fokus van die pleegsorg program is om hulp van die gemeenskap te gebruik wanneer daar baba hondjies of katjies by PAWS is.

Theo Koekemoer, bestuurder van PAWS, vertel dat sommige ma’s doodgaan met geboorte, of in ‘n ongeluk kom. Hierdie hondjies of katjies kom dan PAWS toe, en moet een vir een met ‘n bottel melk gevoer word.

Koekemoer sê verder dat baie studente katjies of hondjies versorg aangesien klein diertjies beter in ‘n woonstel aard as ‘n volgroeide hond of kat.
“PAWS is baie dankbaar teenoor die studente, hulle help ons baie,” verduidelik Koekemoer.

Die pleegsorg proses is soortgelyk aan die aannemingsproses.

  1. ‘n Voornemende pleegsorg-ouer vul ‘n aansoekvorm in, waarna ‘n keuringsproses toegepas word.
  2. Die keuringsproses sluit ‘n besoek aan die voornemende pleegsorg-ouer se tuiste in.
  3. Tydens die besoek word daar vasgestel of dit ‘n veilige omgewing vir die diere sal wees, en of die voornemende pleegsorg-ouer bekwaam is om die diertjies op te pas en te versorg.

    “PAWS sal ‘n datum bepaal wanneer jy die diertjies moet terugbring. Hondjies kom gewoonlik binne ses of sewe weke terug PAWS toe.”

Verder sê Koekemoer dat daar ‘n opsie op die pleegsorg aansoekvorm is wat PAWS na verwys as ‘pleegsorg met die oog op aanneming’. Dit beteken dat die pleegsorg-ouer voorneem om moontlik die diertjies aan te neem. Indien jy besluit om die dier aan te neem, word die dier eers gesteriliseer.

“Ons laat pleegsorg van groter diere nie toe nie,” sê Koekemoer.

“Daar is mense wat honde vir ‘n jaar huisves, en dan skielik besluit hulle, hulle wil nie meer nie. Hierdie honde treur hulself dood in hul hokke. Op die heel klein diertjies het dit nie ‘n impak nie, maar dit breek die groter diere,” sê Koekemoer

‘Pleegsorg met die oog op aanneming’ mag wel toegepas word indien mense ‘n groter dier wil aanneem, maar eers wil kyk of die dier aanpas by hulle. “Hierdie proses duur min of meer ‘n week. Die dier sal nooit langer as drie weke bly nie,” sê Koekemoer.

Koekemoer sê wel dat in die geval van noodsituasies, groter diere vir ‘n tyd na mense toe gaan. “Daar is noodtye, soos met oorstromings. Die hokke kan nie gebruik word nie, dan word mense gebruik om te help met tydelike huisvesting vir diere.”

PAWS dra die mediese koste van diertjies wat in pleegsorg is, en voorsien kos waar hul kan. In meeste gevalle voorsien die pleeg-ouer die kos.

Wat moet jy hê om ‘n suksesvolle pleegsorg-ouer te wees?

“Jy moet groot liefde vir diere hê,” sê Koekemoer.

“Jy moet bereid wees om vir ‘n pasgebore baba te sorg. Dit beteken elke twee ure opstaan en bottel gee. Jy moet ook besef dat die diertjie(s) gaan teruggaaan PAWS toe, behalwe as jy pleegsorg met die oog op aanneming toepas.”

Tokkie Aucamp, ‘n inspekteur by PAWS, hou haar hond Lulu vas. Lulu was 3 weke oud met ‘n tou om haar nek wat aan ‘n klip vasgemaak was toe Tokkie haar gered het. Foto: Cornelia Hitge.

Jacky Van Der Merwe, ‘n Potchefstromer wat vir jare ‘n pleegsorg-ouer was, het raad vir ander. Sy sê dat die dier in jou pleegsorg heel waarskynlik getraumatiseer is en emosionele ondersteuning nodig gaan hê.

Van der Merwe sê verder dat PAWS streng evaluasies en huisbesoeke doen om seker te maak dat die dier ‘n veilige tydelike tuiste het.

“As die pleegsorg-ouer, is dit jou verantwoorlikheid om die dier voor te berei vir hul permanente tuiste. Jy moet ook die hond adverteer vir aanneming. Die organisasie (PAWS) is baie dankbaar vir jou hulp, maar te besig met ander honde red om vir elke dier ‘n huis te soek.”

Van der Merwe sluit af deur te sê dit is belangrik om van die begin af te besluit of jy gaan pleegsorg, of gaan pleegsorg met die oog op aanneming.

Indien jy belangstel om ‘n pleegsorg-ouer te wees, of meer wil uitvind, kontak Theo Koekemoer by 071 681 9264.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button