Gereformeerde Kerk loods projek om Ou Kerkie te bewaar
Die Gereformeerde Kerk Potchefstroom bied Saterdag, 23 Desember ‘n Musikale Kersfees aan. Die doel hiervan is om fondse in te samel om die Ou Kerkie (eerste Gereformeerde Kerkgebou in die Transvaalse Republiek) weer te herstel.
Die Gereformeerde Kerk Potchefstroom bied Saterdag, 23 Desember ‘n Musikale Kersfees aan. Die doel hiervan is om fondse in te samel om die Ou Kerkie (eerste Gereformeerde Kerkgebou in die Transvaalse Republiek) weer te herstel. Die verrigtinge begin om 16:00.
Die Ou Kerkie is op die terrein van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom in Walter Sisululaan 33 (voormalige Kerkstraat).
In die afgelope jaar is verskeie versoeke vanaf die gemeenskap en veral studente ontvang oor die gebruik van die unieke Ou Kerkie vir klein troues. Hierdie versoeke was ‘n groot motivering om hierdie projek te beplan. Dit sal egter net moontlik wees as behoorlike beplanning en ontwikkeling van die interieur in ‘n Neo-Gotiese styl van die tydperk 1860+ plaasvind. Die Ou Kerkie het ‘n gewyde atmosfeer waar ouwêreldse sjarme en eenvoud deur die interieur geskep kan word, en wat ‘n unieke opset vir ‘n huweliksbevestiging skep.
Die Gereformeerde Kerk Potchefstroom staan egter voor ‘n kruispad aangesien die instandhoudingskoste vir hierdie gemeente te hoog is.
Instandhouding wat veral dringend aandag benodig is die grasdak, rietjiesplafon, misvloer, geelhoutdeure en gebakte kleimure.
As genoegsame fondse aanvanklik verkry word, sal die Ou Kerkie mettertyd selfvoorsienend kan wees en ‘n “lewende museum” vir die gemeenskap kan wees.
Huidige situasie van die Ou Kerkie
Instandhouding en finansiële ondersteuning is egter nodig om hierdie nasionale monument te bewaar aldus die Simon van der Stel Nasionale Erfenis stigting.
Die Ou Kerkie moet bewaar word, nie slegs vir die nageslag van die Gerformeerde Kerk nie, maar vir die hele gemeenskap as ‘n “lewende museum”. Om dit te kan doen moet dit meer effektief gebruik word om ook meer funksioneel te wees.
Die doel is dat hierdie gebou selfvoorsienend moet wees sonder om altyd afhanklik te wees van finansiële ondersteuning deur die gemeenskap of die lidmate van die gemeente.
Wat word tans benodig vir restourasie van die Ou Kerkie?
* Die oorspronklike kateder is op bruikleen en kandelare van die betrokke tydperk (1860 plus) deur ‘n plaaslike ystersmid gemaak.
* ‘n Totale pakket wat verhoogde funksionaliteit sal lewer moet gebied word. Dit kan insluit:
* Voltrekking van klein troues vir ongeveer 90 gaste, veilige parkering en tuin, kerksaal met kombuis.
* Beskikbaarstelling vir aand eredienste vir die gemeente.
* Tegnologie: Opleiding en seminare deur teologiese studente en andere. Internet stroming en wifi word beplan en sal ingesluit wees.
* Alarmstelsel is in werkende orde.
* Bykomend moet die misvloer vervang word met ‘n houtvloer wat toekomstige onderhoud sal vergemaklik.
* Geen banke is beskikbaar nie. Daar word vriendelik versoek dat gemeentes en die gemeenskap bydrae vir kerkbanke maak of banke skenk.
* 20 banke word benodig wat deur ‘n plaaslike meubelmaker handgemaak sal word. Die gotiese styl van die vensters en kandelare sal weerspieël word in die kerkbanke. Meerdere skenkers vir ‘n enkele bank sal dit makliker maak. Die prys van ‘n bank is min of meer R5 000 per bank.
* Die mure en fondasie moet ook aandag kry. In totaal benodig die kerk ongeveer R500 000 om die Ou Kerkie heeltemal funksioneel te maak.
Geskiedenis van die Ou Kerkie
Pres. MW Pretorius het twee erwe op die ou markplein in Potchefstroom vir die oprigting van ‘n Gereformeerde kerk in 1863 geskenk. Die Potchefstroom gemeenskap, lidmate en nie-lidmate, het ywerig ingespring om te help bou aan die Ou Kerkie. Dit is ‘n kosbare nalatenskap en voorbeeld van die Volksboukuns en was ook die geboorteplek van die Potchefstroomse Universiteit. Die Ou Kerkie is sover vasgestel kan word die oudste bestaande Gereformeerde kerkgebou noord van die Vaalrivier, asook een van die oudstes in die land. Dit was in die tydperk tussen 1867 – 1897 vir 30 jaar aktief in gebruik.
Belangrike besluite rakende die Gereformeerde Kerk is in die Ou Kerkie tydens sinodesittings geneem. Een van die besluite op 20 Mei 1869 het ingesluit die oprigting van ‘n teologiese skool vir Gereformeerde studente. Die voorbereidende teologiese skool het later die Potchefstroomse Universiteit geword. In 1922 het die Universiteit versoek dat die Ou Kerkie gebruik word as ‘n chemiese laboratorium op voorwaarde dat herstelwerk aan die gebou gedoen moet word. Potchefstroom Gimnasium en Laerskool Mooirivier het ook later hieruit gegroei.
In 1897 is die tweede groter kerk (gesloop in 1960) ingewy deur Pres. Paul Kruger en vir meer as 60 jaar gebruik voordat die huidige kerkgebou in 1958 in gebruik geneem is. Die Ou Kerkie is as ‘n Nasionale Museum in 1982 verklaar. Na restourasie in 1988 is dit vir aktiwiteite soos kategese, vergaderings en Bybelstudie gebruik.





