Local newsNewsNews

Uit Piet se Pen: Om Krismiskonsert se hou

Met 'n laken om my lyf en 'n handdoek oor my kop sommer met 'n ou das vasgewoel, word ek 'n Wyseman en daardie aand, met die sing van Stille Nag, toe weet ek, die mense se harte is in hierdie konsert

Dis laat in November, en ons, dis nou ek en ander Piet en Hennie, sit sommer so oor die middaguur om ietsie ligs te gebruik.

Dalk ‘n Germaanse skuimkoppie of ‘n ander mengeldrankie.Ons sit en gesels oor die Kerssangaande wat oral plaasvind toe ander Piet begin vertel van sy ervaring met ‘n Kerssangaand, daar iewers op die platteland toe hy nog boorman was.

Hy vertel dat hy een middag rustig sit daar voor sy karavaan: die boor loop mooi, die beitels is skerp en die aanduidings is daar dat hy ‘n mooi water gaan oopboor. Hy sê daar kom toe so ‘n aanvallige jong dametjie aangestap en, na sy gegroet het, vra sy: “Wil Oom ‘n sterrekyker word?”

Hy sê dat die vooruitsig om saam met haar te gaan sterre kyk, baie aanloklik lyk. “Wanneer wil jy gaan kyk?”

“Nee, Oom verstaan nie. Wil Oom ‘n wyseman word? Nou wonder ek wie wil wat wys en toe sy sien ek verstaan nie, verduidelik sy: “Oom sien, ons is besig met ons krismiskonsert en Oom Gert, wat ‘n Wyseman was, het stry gekry met die Dominee en toe loop hy. Almal is nou al gebruik en nou kort ons ‘n Wyseman en toe stel ek voor ons moet Oom vra en nou vra ek. Sal Oom asseblief? Ek speel ook in die konsert. Ek is Maria.

“Ek stem in en toe begin die oefeninge, elke Woensdagmiddag. So teen vyfuur maar die meeste daag eers so teen sesuur op. Dit was maklik om ‘n Wyseman te wees.

Ek en die ander twee stap in, kyk vir die ster, stap na die krip met die baba in en deel geskenke uit en dan stap ons weer af. Maklik. Maar partykeer speel die orrel die verkeerde lied en dan weet ons nie wanneer om in te stap nie, of iemand struikel oor ‘n stoel.Maar so word ek toe deel van die Kerssangdiens, of soos die meisie gesê het, die Krismiskonsert.

Met ‘n laken om my lyf en ‘n handdoek oor my kop sommer met ‘n ou das vasgewoel, word ek ‘n Wyseman en daardie aand, met die sing van Stille Nag, toe weet ek, die mense se harte is in hierdie konsert en ek kry die gevoel van Vrede op Aarde.

Dis wat ons al die lesers toewens: ‘n Geseënde Kersfees .

Related Articles

 
Back to top button