Local newsNewsNews

Pitbull-saak wéér uitgestel

Die staatsaanklaer het aan die hof verduidelik dat die bykomende klag oor ‘n aparte voorval handel wat in 2021 plaasgevind het.

Die verhoor van die saak rakende die eienaars van pitbull-honde wat ‘n huishulp, Dipuo Kokolosi, op 25 Januarie 2022 verskeur het, is vir die soveelste keer vandag (Dinsdag, 9 Januarie 2024) uitgestel.

Die rede vir die uitstel is weens die feit dat die staat ‘n bykomende klag van nalatigheid bygevoeg het, waarna die verdediging se regsverteenwoordiger, Malan Schutte, vir uitstel gevra het weens die feit dat hy sou moes voorberei op die nuwe klag.

Die verhoor is nou tot 26-27 Maart 2024 uitgestel.

Die staatsaanklaer, Nathasia Oeschger, het aan die landdros, Paul Monyane, verduidelik dat die bykomende klag oor ‘n aparte voorval handel wat in 2021 plaasgevind het.

Die eienaars van die pitbull-honde, Chandré en Marno Mostert, se regsverteenwoordiger, Malan Schutte, het daarop gewys dat dit nie aan hom uitgewys is dat daar ‘n nuwe klag bygevoeg sou word nie.

“Die verdediging kan nie gepenaliseer word nie. Dit sal baie onregverdig wees om met die verhoor voort te gaan, as die verdediging nie weet wat die klag behels nie,” het Schutte verduidelik.

Schutte het genoem dat die klagstaat voorheen tydens die voorverhoor verlede jaar gefinaliseer was en dat die verdediging dienooreenkomstig voorberei het. ‘n Ekstra dag sou nie genoeg wees om vir die nuwe inligting voor te berei nie en hy het versoek dat die verhoor eerder uitgestel word. Die staatsaanklaer het ook genoem dat sy eers onlangs ingelig was dat sy die saak verder sou neem nadat ander staatsaanklaers by vorige hofverskynings teenwoordig was in dié saak.

Chandré en Marno Mostert saam met hul regsverteenwoordiger, Malan Schutte, vanoggend (Dinsdag, 9 Januarie) voor die Potchefstroom Stadsaal. Foto: Wouter Pienaar.

Die Mosterts word beide ingevolge die Wet op Diereaangeleenthede aangekla. Daar word beweer dat hulle nalatig was. Hul huishulp, Kokolosi, wat op die dag van die voorval vir hul gewerk het, is op hul perseel in Kockstraat aangeval.

Die honde het haar neus, lip, en oorskulpe afgeruk en ook ander dele van haar liggaam gebyt. Een van die staatsgetuies, Ziggy Abdullah, ‘n buurman van Van der Linde, het op daardie dag tot Kokolosi se redding gekom en uit selfverdediging die honde doodgeskiet nadat hy ‘n waarskuwingskoot afgevuur het.

Dustin Wetdewich en Ziggy Abdullah is twee buurmans wat op die dag van die aanval tot Kokolosi se redding gekom het.

Dustin Wetdewich, nog ‘n buurman en staatsgetuie, was ook daardie dag op die toneel en het saam met Abdullah vir Kokolosi in haar nood gehelp.

Kokolosi moes na ‘n lang tyd in die hospitaal en herstel ook talle rekonstruktiewe operasies ondergaan en ervaar steeds emosionele trauma.

Kokolosi en haar gesin het verlede jaar aan die Herald genoem dat hul finansieël sukkel en nie die finansies het om heen en weer van Bloemhof te pendel na die hof nie. Die saak is ook sedert Augustus gereeld vir verskeie redes uitgestel wat buite hul beheer was.

Dipuo Kokolosi (middel) is op 25 Januarie 2022 deur drie Pitbull-honde aangeval. Sy dra letsels op haar gesig van die aanval. Langs haar is Patricia Modise (dogter) en Joseph Modise (broer). Foto’s: Wouter Pienaar.

Byna twee jaar na hierdie voorval ervaar Kokolosi nogsteeds emosionele en fisiese pyn. Sy het alreeds talle rekonstruktiewe operasies ondergaan en daar word beoog dat daar weer op 15 Januarie 2024 aan haar gesig gewerk sal word om haar neus kosmeties te herstel.

Haar broer, Jospeh Modise het bevestig dat die operasie by Chris Hani-Baragwanath hospitaal plaasvind.

Die familie van Kokolosi het bevestig dat hulle besig is om ‘n siviele eis ook van stapel te stuur.

Tydlyn van die hofsaak:

  • 6 Julie 2023: Marno en Chandré Mostert verskyn vir die eerste keer in die hof. Die saak is na 1 Augustus uitgestel en toe weer tot 22 Augustus.
  • 22 Augustus 2023: Eerste voorverhoor word uitgestel om die staat kans te gee om die dossier te bestudeer.
  • 11 September 2023: Daar word ooreengekom dat die verhoor tot November uitgestel word omrede Chandré (toe van der Linde) en haar lewensmaat, Marno in Oktober sou trou en op wittebrood sou wees.
  • 6 November 2023: Die verhoor is uitgestel weens ‘n foutiewe opnamemasjien. Daar is bepaal dat die verhoor op 9-10 Januarie 2024 sou voortgaan.
  • 9 Januarie 2024: Die saak is uitgestel om die verdediging kan te gee om ‘n bykomende klag op die klagstaat te bestudeer. Die saak is na 26-27 Maart 2024 uitgestel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button