Nuwejaar-sukses vir PAWS
PAWS kommitee-lid Cecilia Marais is bly om te bevestig dat slegs twee honde tydens Nuwejaar ontsnap en opgetel is.
PAWS se personeel en ‘n span vrywillgers het Maandag, 31 Desember vanaf omstreeks 23:00 Potchefstroom se strate gepatrolleer om uit te kyk vir honde wat weens die harde geluid van klappers, van hul huise weggeloop het.
Cecilia Marais, ‘n komitteelid van PAWS, noem dat dit vanjaar ‘n sukses was. “Ons het hierdie jaar net twee honde opgetel,” sê Cecilia. “Ons het wel drie dae later nog opgetel, maar daar was ‘n jaar wat ons 46 honde op nuwejaar gevang het. Dit voel asof mense meer ingelig is oor die uitwerking wat klappers op diere het, en ook hoe om hul diere veilig en kalm te hou.”
Cecilia verduidelik dat die persone wat deelneem elk ‘n gebied in Potchefstroom kry wat hul dan moet patrolleer. “As jy ‘n hond sien wat weggeloop het, tel jy die hond op. Partykeer is die honde baie skrikkerig en hardloop weg. Ons het ‘n WhatsApp-groepie waarop ons dan ‘n boodskap stuur en vir bystand van die ander vrywilligers vra.”
Indien jy steeds nie jou hond gekry het nie is jy welkom om ‘n draai by PAWS te maak. “As jou hond verlore raak, is dit goed om altyd eerste by die diere-hawe in jou omgewing te gaan soek, voor jy verder kyk,” noem Cecilia. “Daar is ‘n Potch Pets Facebook-bladsy waarop diere wat by PAWS afgegee word, geplaas word. Mense kan daar vir hul diere gaan soek, of foto’s van hul verlore diere plaas sodat mense in die gemeenskap ook op die uitkyk kan wees.” Cecilia bedank almal wat die aand gehelp het, asook Hansie van Tiptop Kennels. “Hy help ons altyd wanneer ons hokke vol word en huisves die honde tydelik teen geen koste nie. Dankie ook aan almal wat saamgewerk het en ander maniere gevind het om nuwejaar te vier, eerder as om klappers te skiet.”



