Valkoog: Fluit-fluit my storie is uit
Maniere het in die toilet weggespoel en ons kort dringend ‘n loodgieter.

Goeie maniere was nog altyd ‘n belangrike deel van die samelewing. Of so het ‘n mens gedink, totdat die mensdom mens weer net verbaas. As joernalis kom mens gereeld in kontak met die probleme van die samelewing – aspekte wat abnormaal is.
Of dit nou rioollekke, vullisstorting, slaggate, of vandalisme is.Valkoog se skerp visie het hierdie week sy visier op vandalisme en die gebrek aan maniere wat tot hierdie gedrag in Potch bydra (en die meeste ander dorpe en stede in Suid-Afrika).
In hierdie week se Herald is daar ‘n berig oor vandalisme by die Park Tennisbaan in Beyers Naudelaan.
Oor naweke word daar hard gekuier en talle kere gebruik “feesgangers” die terrein en verander dit in hulle eie persoonlike vullisterrein.
Alles van bottels, papiere, plastieksakke tot gebruikte kondome kan hier gevind word. Daar is liefde in die lug, maar definitief nie vir opruim nie. Daar is niks fout om te kuier en te geniet nie, maar ruim agter jou op. Los die plek in ‘n beter toestand as wat jy dit gekry het. Dit is goeie maniere 101.
Wat die kersie op die koek geplaas het (of dalk in hierdie geval, die bol mis in die oprit gelos het) was die feit dat mense sommer op die tennisbaan urineer of in die ergste geval ‘n nommer twee in die parkie los. Daar is nie ablusiegeriewe nie, maar heng daar moet iewers ‘n streep getrek word.
Goeie maniere is om ‘n alternatief te vind – soos om slegs ‘n paar meter na die naaste vulstasie te loop en daar die geriewe te gebruik. Higiëne is belangrik mense. Terloops, dit is slegs 500 meter na die naaste toilet by daardie vulstasie.
Die stories van urinering op die tennisbaan was skaars klaar vertel toe ‘n individu sy kar kom parkeer, uitstap en ewe rustig in die parkeerarea van die tennisbaan gou met ‘n nommer een deuntjie gaan fluit.
Dit was asof hy net gou sy toilet in die huis gebruik – mens kon agterkom hy ken die roete na die wêreld se “badkamer”.
Gewoontes word met opvoeding gekweek – dit is een ding om jou blaas in ‘n verlate plek agter ‘n bos leeg te maak. Maar in die openbaar waar almal jou kan sien?
Maniere het in die toilet weggespoel en ons kort dringend ‘n loodgieter.



