Local newsNewsNews

Oud-joernalis het onblusbare passie vir Potchefstroom

Lennie Gouws, 'n oud-joernalis met 'n liefde vir skryf, het al vele geskiedenis van Potchefstroom en die Noord-Wes Universiteit neergepen.

Lennie Gouws, briljante skrywer en jarelange inwoner van Potchefstroom, ken haar omgewing op die punte van haar vingers. Dieselfde vingers wat vir jare aanhou om Potch se stories en geskiedenis neer te pen.
“Ek het in 1982 by die Herald begin as joernalis,” vertel Lennie terwyl haar hond, Norka, by haar voete vir aandag soek. “Ek het tot 1985 daar gewerk, waarna ek deur die Universiteit genader is om ‘n tydskrif, Pukskakel, vir hulle te doen.” Lennie glimlag en noem dat sy altyd na die tydskrif verwys het as haar baba voor sy kinders gehad het. “Ek moes alles doen,” onthou Lennie. “Die stories skryf, die bladuitleg, die foto’s. Alles.” Die bladuitleg het vir Lennie ‘n vaardigheid gegee om te kan sien as iets skeef sit of hang. “Ek kan sien as iets met ‘n millimeter skeef is,” sê Lennie. In haar tyd by Pukskakel, wat later PU: Kaner geword het, het Lennie die land vol gereis. “Ek was in die Kaap, Johannesburg, die Vrystaat, oral.” Lennie het onderhoude met ‘n paar bekendes gevoer. “Ek het met FW de Klerk en sy vrou Marike onderhoude gehad. Hulle het beide aan die Universiteit studeer.” Lennie het met Barend du Plessis, wat by die POK studeer het, ook ‘n onderhoud gevoer.

Lennie kyk terug op haar dae by die Herald. Foto: Cornelia Hitge.

In 1986 is Lennie getroud, en sy en haar man het besluit dat sy by die huis sal bly terwyl die kinders nog jonk is.
In 1993 het Hennie Stander, voormalige redakteur van Potchefstroom Herald, haar genader en gevra of sy vryskut vir die Herald sal skryf. “Ek het dit baie geniet om ‘n joernalis te wees,” vertel Lennie nadenkend. “Dit het bitter min gevoel soos
werk.” Lennie het in die tyd stories begin skryf oor al die plase in die omgewing, onder andere Gerrit Minnebron, en die geskiedenis van die plase. “In 1997 het die Herald strukturering ondergaan en kon my nie meer betaal het as ‘n vryskut nie. Ek het toe vertalingswerk begin doen.”
Lennie noem dat sy later ‘n boodskap vanaf God ontvang het dat sy meer tyd saam met haar kinders moet deurbring. Sy het al haar projekte gelos en betrokke geraak by Agapé, die skool waarin haar kinders was. “Ek het voorsitter van die beheerraad geword, maar later was al drie my kinders uit die skool uit en ek is nie meer op die beheerraad nie.”

Lennie wys een van die eerste kleurfotos wat in die Herald verskyn het. Foto: Cornelia Hitge.

In 2007 het Lennie en die Herald mekaar weer raakgeloop. “Ons jongste is koshuis toe en ek het gewonder wat my te doen staan,” glimlag Lennie in herinnering. “Die volgende oggend half ses in die gym stap Hennie Stander na my toe en vra of ek nie ‘n bylaag vir die Herald kan doen vir die volgende jaar nie. Die Herald het 100 jaar oud geword in 2008.”
“Dit was ‘n 124-blad koerant. 10 bladsye was vol advertensie-blaaie, en ses was sport. Omtrent 100 van die kopieë het ek self geskryf.” In 2008 het Potchefstroom 170 jaar oud geword, en Lennie het ‘n bylaag daaroor vir die Herald gedoen. Daarna het Lennie besluit om haar Meestersgraad in Kommunikasie te doen, en het die in 2010 ontvang.
Die sokker Wêreldbeker was natuurlik in 2010, en Lennie het daaroor ‘n bylaag gedoen vir die Herald. “Ek weet nie eintlik iets van sport nie,” lag Lennie. “Ek moes my swaer in Duitsland bel en vir hom sê ‘Verduidelik vir my sokker’.” November 2011 het Lennie aan ‘n biografie oor McArthur begin werk. Die boek, Kenneth McArthur – ‘Marathon Mac’ from Potchefstroom, was geskryf om McArthur se se Olimpiese Maraton-wen in Stockholm, 1912 te vier. Die boek is in 2012 gepubliseer. In 2013 het Lennie die boek, ‘Dis oorlog man! – 70 Jaar van Intervarsity teen Kovsies’, wat handel oor Intervarsitygeskiedenis geskryf. In 2014 het Lennie Puk-kunste – die geheim agter die gordyn geskryf.
In 2015 pak Lennie ‘n PhD in Geskiedenis aan, sowel as ‘n boek vir die Fakulteit Regte. Die boek, ‘50 Jaar Gedenkbundel – Fakulteit van Regte’, is geskryf om die Fakulteit se 50ste bestaansjaar te vier. In 2016 skryf Lennie ‘n boek vir SJGD om hul 40ste bestaansjaar te vier. Die boekis getiteld ‘SJGD – die Warm Studentehart van die NWU-PUK.’ In 2018 byt die skryf-gogga weer en Lennie skryf ‘n boek, ‘Stories van/of Potchefstroom.’ Die boek handel oor die geskiedenis van Potchefstroom. Lennie ontvang haar PhD vir Geskiedenis in 2019, en begin ‘n blog in 2020 waarop sy steeds skryf. “Die blog het my beslis gehelp om nie ‘cabin fever’ te kry tydens die pandemie nie,” noem Lennie.
Deesdae geniet Lennie dit om te hekel en tyd te spandeer aan stories vir haar blog.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button