Local newsNewsNews

Ou infrastruktuur aangewys as oorsaak van rioollekke

Munisipale woordvoerder Jeanette Tshite sê dat die munisipaliteit se tegniese dienste in kennis gestel is van die probleem, en dat hulle bevind het dat die vleilande voor die pompstasie problematies is en rehabilitasie benodig.

Die Chris Hani pompstasie was vir meer as drie jaar buite werking. In dié tyd het inwoners in die omliggende gebiede baie swaargekry. Die pompstasie het einde Oktober verlede jaar weer ten volle begin werk nadat twee nuwe pompe geïnstalleer is. Inwoners en wyksraadslid Heinricha Hodgson was verlig en het gedink dat die stryd teen riool verby is. Dit het egter vinnig geblyk dat die probleem vererger het.
“Dis baie erger as voorheen,” sê Heinricha en wys na ‘n riool-opdamming op die hoek van Chris Hani en Mooirivierrylaan. “Die nuwe motors werk fantasties en pomp al die riool weg. Die ander infrastruktuur is egter nie opgedateer nie en dit wil voorkom asof die riool by al die swak plekke uitlek.” Die riool loop onder die pad deur in die voëlpark en veroorsaak dat die riete in die omgewing byna verdriedubbel het.

Heinricha wys na die riete wat verdriedubbel het. Foto: Cornelia Hitge.

Verskeie spesies vinke baljaar in die riete, maar dis duidelik dat hul alleen baat vind by die riool-lekking. Heinricha vertel dat boer Dries Grimbeek melkkoeie het wat in die area wei en van die water drink. “Die water is gekontamineer en maak die koeie siek.”
Heinricha merk op dat die riool ‘n oorweldigende reuk in die lug los wat inwoners noodsaak om hul deure en vensters te midde van die somerhitte toe te hou. “Metaangas wat so in die lug vrygestel word is vreeslik gevaarlik,” noem Heinricha en vertel dat ‘n inwoner in haar wyk inligting gedeel het daaroor. Die inwoner het verwys na die ontploffing in Breestraat, Johannesburg wat vermoedelik deur metaangas veroorsaak is.
“Die saak is al in 2020 by die Menseregtekommissie aangegee. Nadat ons maande lank gewerk het om die pompstasie op te gradeer, het ons gedink dit sal die probleem oplos. Die probleem gaan egter veel dieper en lê by die infrastruktuur wat al vir jare nie opgedateer word nie. Daar moet ‘n ondersoek van stapel gestuur word om vas te stel waar die probleemareas is en hoe dit aangespreek en herstel kan word.”

Die riool dam op in die vleiland onder die pompstasie. Foto: Cornelia Hitge.

Heinricha kyk na die byna skouerhoogte gras wat tot teen die pad groei en voeg op ‘n moedelose toon by: “Ons moet maar so lewe, die Suid-dorp is mos niks!”
Munisipale woordvoerder Jeanette Tshite sê dat die munisipaliteit se tegniese dienste in kennis gestel is van die probleem, en dat hulle bevind het dat die vleilande voor die pompstasie problematies is en rehabilitasie benodig. “Die ou pomplyn wat rioolwerke en die pompstasie konnekteer is tans die probleem. Die korttermynplan is om die rioollekke reg te maak en die langtermynplan om die pomplyn te vervang. Wanneer die lekke herstel is en die pomplyn vervang is, sal die vleilande gerehabiliteer word.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button