Local newsNewsNews

Sout van die aarde gesinsman was ‘n ware steunpilaar

"Hy was lief daarvoor om mense se siele uit te trek en het altyd hierdie ongelooflike glimlag gehad. Hy was ook altyd hard aan die werk en besig. Dit wat hy begin het, wou hy klaarmaak en alles wat hy aangepak het, was ‘n sukses."

‘n Man soos Herman Pretorius (42) het ‘n mens nie om elke hoek en draai gekry nie – iemand wat hardwerkend was, nie sommer kon stilsit nie en altyd tyd vir mense in sy lewe kon maak. So onthou sy geliefdes vir “Herrie”, wat hierdie week sy laaste asem uitgeblaas het.

Herman Pretorius soos mense hom sal onthou – altyd met ‘n glimlag geklee.

Herman is Maandag, 22 Januarie in ‘n fabrieksongeluk by Chubby Chick dood. Hy was ten tyde van sy dood ‘n senior toesighouer en het vir sowat 14 jaar vir dié maatskappy gewerk. Sy vrou van die afgelope 13 jaar, Amelia, beskryf hom as ‘n man wat ‘altyd behulpsaam was en met ‘n grappige humorsin.’

“Hy was lief daarvoor om mense se siele uit te trek en het altyd hierdie ongelooflike glimlag gehad. Hy was ook altyd hard aan die werk en besig. Dit wat hy begin het, wou hy klaarmaak en alles wat hy aangepak het, was ‘n sukses. Hy was lief daarvoor om goed met sy hande te doen. Of dit nou was om te plant of op die kleinhoewe met diere te werk. Hy het die lekkerste salami gemaak, dit is maar een van die dinge wat almal baie van hom gaan mis.”

Amelia beskryf Herman as iemand wat altyd grappe kon maak en tyd maak vir ander.
Herman en Amelia was vir 13 jaar getroud.

 

Herman en Amelia kom oorspronklik van Thabazimbi af, maar die twee het mekaar eers werklik leer ken in Potchefstroom.

“Dit is nog baie hartseer en onwerklik om te weet dat hy nie meer hier is nie. Dit was ‘n groot skok om te hoor van die ongeluk. Almal by sy werksplek was baie ondersteunend. So ook al ons bure en vriende. Herman het soveel mense geken en aangeraak. Hy het altyd tyd gehad om almal te groet en ‘n grappie of twee te maak,” sê Amelia.

Herman glimlag breed met ‘n toekenning wat hy as deel van sy werk ontvang het.

Herman se ma, Wilma, noem dat sy baie trots is op haar seun en veral sy behulpsaamheid en perfeksionisme sal onthou.

“Ek en hy het dieselfde geaardheid. By Herman was alles of reg of verkeerd, daar was nie grys areas nie.”

Herman het verder ook ‘n liefde vir die seelewe en visvang gekoester. Hy het die afgelope Kersfees vir sy twee seuns, Hanru (4) en Herman (7) visstokke as geskenke gegee.

Past. Tom Bekker van AGS Miederpark, wat baie na aan Herman was en ook vir hom en Amelia getrou het, noem dat Herman ‘n sout van die aarde mens was.

“Ek het baie mense in my lewe ontmoet en Herman was een van daardie mense wat ‘n indruk op mens gelaat het. Hy het nooit kwaad gepraat oor ander nie en was baie geliefd onder sy personeel,” noem past. Bekker.

Past. Bekker was Dinsdagoggend by Chubby Chick en noem dat personeel tydens ‘n huldeblyk aan Herman, begin sing het.

“Ek het van sy werkers sien huil. Mans het trane gestort. Hy was ‘n dierbare mens. Herman wou net teruggee en dinge doen. Hy was altyd positief en was lief om te werk. Almal by die kerk het hom geken as Herman Hoender. Die wat hom geken het sal hom altyd onthou.”

Herman saam met sy seuns Henru en Herman. Hulle het gereeld saam visgevang.

* Brig. Sabata Mokgwabone, Noordwes polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê dat die polisie ‘n geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur het. Dit is nog onseker presies hoe die voorval plaasgevind het wat tot Herman se dood gelei het. Die Departement van Arbeid was ook op die toneel om ondersoek in te stel.

* Chubby Chick het by navraag verduidelik dat hulle nie kan kommentaar lewer voor die ondersoek nie afgehandel is nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button