Local newsNewsNews

Gimmieraad is gelowig en diensbaar, was voete

"Wees nederig en wees diensbaar. Was ander se voete, lig mekaar op en bereik saam hoër hoogtes," Tobias Van Dyk.

Die Gimmieraad het hul Gr. 8’s op ‘n besondere manier gedien tydens die jaarlikse Gr. 8-kamp deur die Gr. 8’s se voete te was.

Die idee om die nuwe leerlinge se voete te was het by Gimmies se Dagbestuur posgevat, waarna dit beplan en uitgevoer is. Tobias Van Dyk, ondervoorsitter van die Gimmieraad, sê die volgende, “Ons het almal die behoefte gehad om iets meer vir ons nuwe Gr. 8’s te gee, iets anders as dit wat in die gewone inisiasie ingesluit is. Die voete was-inisiatief het vir ons soos ‘n eenvoudige en spesiale gebaar gevoel, met ‘n duidelike boodskap.”

Die Gimmieraad bid oor die Gr. 8’s voor hulle hul voete was. Foto: Verskaf.

Tobias spreek sy hoop uit dat dit ‘n tradisie by Gimmies sal word, maar noem dat dit van die volgende Gimmieraad sal afhang. “Ons is ontsettend gelukkig met die impak van die inisiatief en sal geëerd voel as hulle (die volgende Gimmieraad) en die skoolbestuur besluit om dit ‘n tradisie te maak. Ons is egter vol vertroue dat die volgende Gimmieraad met selfs nog beter voorstelle en inisiatiewe vorendag sal kan kom en sal bou, soos ons gebou het, op die fondasies wat al jare lank in Gimmies gelê is,” sê Tobias.

Die Gimmieraad was die Gr. 8’s se voete. Foto: Verskaf.

Tobias sê verder dat die gebaar baie vir die Gr. 8’s beteken het. Die Gr. 8’s was nie verplig om deel te neem nie, en Tobias merk op dat die Gimmieraad met groot dankbaarheid besef het dat ‘n oorgrote meerderheid Gr. 8’s deelgeneem het. “Dit was hulle keuse om deel te neem, net soos dit ons keuse is om Jesus te aanvaar en ons sondes skoon te was,” voeg Tobias by.

Hierby is ‘n gedeelte van Tobias se praatjie wat aan die Gr. 8’s gebied was voor hul voete gewas is.

Daarom raai ek julle aan, volg dit wat Johannes 13:1-17 ons leer:

Wees nederig en wees diensbaar. Was ander se voete, lig mekaar op en bereik saam hoër hoogtes. Rig julleself op God en volg dit wat hy beplan. In hierdie groepie van 230 jong kinders van God is daar die potensiaal om die wêreld saam te verander.

Ek los julle met die:

Trap diep, trap vas en trap saam met skoongewasde voete sodat almal nog vir lank julle wandelpad in Gimmies en die wyer wêreld sal kan sien en volg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button