Goede, beter, beste: 10 onderskeidings vir Rika
Vanjaar spog een van Potchefstroom Gimnasium se top akademiese presteerders van 2023, Rika Goede, met ‘n allemintige 10 onderskeidings om haar hoërskoolloopbaan op ‘n hoogtepunt af te sluit.
Vanjaar spog een van Potchefstroom Gimnasium se top akademiese presteerders van 2023, Rika Goede, met ‘n allemintige 10 onderskeidings om haar hoërskoolloopbaan op ‘n hoogtepunt af te sluit.
Rika is ‘n akademiese boffin met ‘n onblusbare passie vir leer. Sy het onderskeidings in Engels Huistaal, Afrikaans Huistaal, Lewensoriëntering, Wiskunde, Fisiese Wetenskap, IT en Rekeningkunde in haar sewe skoolvakke.
Haar ekstra vakke, Ingenieursgrafika en Ontwerp, Lewenswetenskappe en Musiek, behaal sy ook onderskeidings. Vrydag, 19 Januarie was Rika saam met haar trotse ouers, Hennie en Roelien, by die skool om die goeie nuus te ontvang. Rika se glimlag was tekenend van die ekstase wat in haar borrel.

“Ek wou niks van my vakke regtig los nie, omdat ek baie lief is daarvoor om te leer. So ek het besluit om die ekstra vakke te neem. Ek het al my vakke baie geniet en ook regtig hard gewerk. Ek is nou net verlig en baie bly,” vertel Rika.

Dit is veral in Inligtingstegnologie (IT) waar sy uitgeblink het met ‘n punt van 97% in haar praktiese assesseringstaak. Sy het ook in graad 11 en 12 goue sertifikate by die nasionale IT-Olimpiade ontvang.
Vanjaar gaan Rika Megatroniese Ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit (NWU) studeer. Buiten haar studies gaan sy ook aanhou om hoërskoolkinders te help as ‘n tutor by die Olympus Akademiese Sentrum saam met haar ma, prof. Roelien Goede.
Buiten haar akademiese prestasies is Rika baie musikaal en het ‘n groot liefde vir viool, wat sy ook self met lof speel.
“Musiek is vir my ontspanning en dit is iets wat ek regtig geniet. Musiek en nog musiek,” beaam sy.



