Local newsNewsNews

Munisipaliteit in die rooi weens wanbesteding

Tydens hierdie raadsvergadering is die halfjaarlikse finansiële state onder die loep geneem met skokkende syfers wat op ‘n afdraande pad dui.

Die eerste algemene raadsvergadering van die J.B. Marks Munisipaliteit wat op Woensdag, 31 Januarie plaasgevind het, het ‘n skamele beeld van die finansiële verknorsing geskets.

Tydens hierdie raadsvergadering is die halfjaarlikse finansiële state onder die loep geneem met skokkende syfers wat op ‘n afdraande pad dui.

Volgens opposisie partye is daar talle gevalle van finansiële wanbestuur, soos ‘n bedrag van R 200 miljoen wat die munisipaliteit aan Eskom skuld.

Voorheen was die J.B. Marks munisipaliteit die enigste munisipaliteit in die provinsie wat op datum met Eskom was, tot die afgelope ses maande.

Volgens DA koukusleier, Johni Steenkamp, sal hulle nie toelaat dat inwoners se elektrisiteitsvoorraad opgeskort word as gevolg van die finansiële wanbesteding van die munisipaliteit nie.

“Ons het kommer in die Raad geopper oor die ANC/PA-koalisieregering wat aanhou om onbefondsde begrotings deur te voer. Die wanbetaling aan Eskom is ‘n direkte gevolg van die aanvaarding van ‘n onbefondsde begroting,” verduidelik Steenkamp.

Volgens Steenkamp het die Munisipale Bestuurder, Kgomotso Kumbe, die vertraging in betalings toegeskryf aan hoë wintermaandrekeninge en gesê dat slegs Desember se rekening van R56 miljoen vereffen is. Verder het hy beweer ’n betalingsreëling van R180 miljoen is met Eskom getref.

VF Plus raadslid, Thys Rossouw wys uit dat die halfjaarlikse finansiële state reeds ʼn begrotingstekort van R157 miljoen vir die finansiële jaar tot dusver wys. Dit sluit tekorte van 20% tot 28% op onder meer die begrote inkomste vir elektrisiteit, water en vullisverwydering in. Oorbesteding van 13% aan munisipale diensverskaffers teen R41 miljoen per maand, oftewel R246 miljoen vir die halfjaar, is ook vermeld.

“Wat hierdie syfer skokkend maak, is die feit dat die geld bestee word aan tenderpreneurs vir dienste wat die munisipaliteit self behoort te lewer. Die VF Plus het reeds voor die begin van die finansiële jaar in Julie 2023 uitgewys dat dit ʼn onbefondsde begroting sal wees en daarom ook in stryd met munisipale finansiële wetgewing,” meen Rossouw.

Die munisipaliteit se wanbestuur word verder onder die loep geneem in die Ouditeur Generaal se verslag.

“Hierin word ongemagtigde, vrugtelose en onreëlmatige uitgawes van R898 miljoen vir die vorige finansiële jaar blootgelê. Die OG meld spesifiek dat ʼn gebrek aan verantwoordbaarheid in J.B. Marks gelei het tot ʼn algemene kultuur van wetteloosheid in die munisipaliteit,” staaf Rossouw verder.

Verder is dit ook ‘n probleem dat geen aanspreeklikheid toegepas word om diegene wat vir wanbesteding verantwoordelik is te straf nie.

“Dit is ʼn skande dat die inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp moet ly onder die verval en stroping van hul munisipale bates weens die ongebreidelde hebsug en onbekwaamheid van die ANC in J.B. Marks,” sê Rossouw.

Steenkamp en die DA hou ook vol dat die Raad opsetlik mislei word.

“Daar blyk ‘n groot verskil te wees tussen die finansiële state wat gister in die Raad aangebied word en die realiteit van die ware situasie wat die lewensvatbaarheid van die munisipaliteit bedreig. Volgens die amptelike finansiële state is daar geen skuld aan Eskom nie, maar tog word ons voorgehou met onmiskenbare bewyse van die teendeel,” noem sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button