Drankwinkels is nou oop op Sondae
Die nuwe Wysigingswet op Dranklisensiëring het 1 April in werking getree.
Mense wat ‘n drankie geniet, kan nou op Sondae en vakansiedae ook alkohol koop.
Drankwinkels in die Noordwes was vir die eerste keer oor die langnaweek oop nadat die nuwe Wysigingswet op Dranklisensiëring op 1 April in werking getree het. Dit het die Drankwet 27 vn 1989 vervang wat op 31 Maart opgehou werk het.
Handelsure vir drank by kroeë, restaurante, klubs, tavernes, ens. is met twee uur verkort, sodat hierdie instansies slegs van 10:00 tot middernag drank kan verhandel.
Die nuwe wet laat drankwinkels toe om hul deure van 09:00 tot 17:00 op Sondae en openbare vakansiedae en van 08:00 tot 20:00 op ander dae oop te maak. Supermarkte wat wyn verkoop, mag van Maandag tot Saterdag van 08:00 tot 17:00 drank verkoop, en op Sondae en openbare vakansiedae van 09:00 tot 17:00.
Geleentheidlisensies vir besighede laat drankhandel toe van 10:00 tot 00:00 en vir residensiële van 10:00 tot 22:00.



