Potch onnie bring innovasie na haar klaskamer
Besige voetjies en 'n brein wat konsentreer. Dit is hoe juffrou Sandri besige kinders help om meer van wiskunde te hou.
Juffrou Sandri Rautenbach, ‘n wiskunde-onderwyseres by Laerskool Mooirivier, is gekies as ‘n finalis vir Rapport, Netwerk24 en die Rapport Onderwysfonds se Onnie maak ‘n plan-kompetisie.
Sandri is al vir 13 jaar ‘n onderwyseres en gee al ongeveer vier jaar by Laerskool Mooirivier skool, maar haar idee, wat haar ‘n plek as finalis vir dié kompetisie verseker het, kom al van haar dae as onderwyseres in Centurion af.
Sy vertel sy het agter gekom dat sekere maatjies net nie wiskunde geniet nie en voel asof hulle dit net nie kan doen nie.
“Dit is asof daardie blokkasie reeds daar is. Ek wil graag hê ‘n leerder moet dit geniet. Hulle moet by my klas uitstap en voel asof hulle iets bereik het. Dit is waarom ek begin navorsing doen het en op wikkel sitplekke afgekom het.”
Sandri verduidelik dat sy na die hoof by die skool in Centurion gegaan het om vir ‘n begroting te vra om wikkel sitplekke aan te skaf.
“Ons het eers begin met die balle, toe die rekke en toe die tafeltjies.”
Die doel van die oefenballe, gymnasium-rekke om die tafels en mat-tafeltjies, is om besige maaitjies wat sukkel om te konsentreer, die kans te gee om woelig te wees, terwyl hulle konsentreer op skoolwerk.
Die mat-tafeltjies laat toe dat leerders met uitgestrekte bene of kruisbene op die mat kan sit terwyl hulle werk.
“Daar is leerders wat elke dag op dieselfde plek wil sit, regop wil sit en so werk. Dit werk vir hulle. Maar vir die woelige kinders wat sukkel om te konsentreer, werk die konsep baie goed.”
Sandri, ‘n oud-Gimmie is baie passievol oor wiskunde en het hierdie konsep oorgedra toe sy by Laerskool Mooirivier begin het.
“Daar is net hierdie emosie van kalmte en konsentrasie wat oor die kindertjies se gesigte kom wanneer hulle gemaklik kan wees deur te beweeg of gemaklik te sit wanneer hulle werk. Dit is vir my die beste gevoel om dit te sien.”
Sandri is deur ‘n vorige leerder se mamma vir die kompetisie ingeskryf.
“Dit is vir my oorweldigend en so ‘n groot voorreg, maar dit gaan nie net oor die prys nie. Dit is meer as net ‘n prys. Ek doen als met liefde en trots. God gee vir jou hierdie kinders en dit is ‘n groot verantwoordelikheid. Ek sien na elke een om soos wat ek na my eie kinders omsien. Niemand hoef te weet wat in jou klas aangaan nie, solank die kinders net daarby baat.”
Sy hoop dit kan ander ook help.
In die volgende paar weke sal Rapport die finaliste aan lesers voorstel en vanaf 22 Junie kan die publiek vir die finaliste stem. Die wenners sal 27 Julie aangekondig word.
Die wenner kry R50 000 en R30 000 vir sy of haar skool. Tweedeplek kry R30 000 en R20 000 vir die skool. Derde plek kry R20 000 en R 10 000 vir die skool. Die ander 7 finaliste kry R5 000 elk.






