Watertoevoeronderbrekings in Potchefstroom ná pompstasie-oorstroming
Verskeie gebiede in Potchefstroom ervaar tans watertoevoeronderbrekings ná 'n oorstroming by die Ventersdorpweg-pompstasie. Instandhoudingspanne is op die toneel, en inwoners word versoek om water spaarsamig te gebruik.
Inwoners van word hiermee dringend in kennis gestel van ‘n oorstromingsvoorval wat by die Ventersdorpweg hoofwaterpompstasie plaasgevind het as gevolg van ‘n meganiese onklaarraking op Pomp 1.
Gevolglik is die pompstasie tans nie in werking nie, wat lei tot watertoevoeronderbrekings in verskeie gebiede.
Die volgende gebiede sal watertoevoeronderbrekings ervaar:
- Dassierand
- Kannonierspark
- Witrand Hospitaal
- Promosa
- Mohadin
- Westelike dele van Ikageng (Alle uitbreidings)
Jeanette Tshite, munisipale woordvoerder sê die instandhoudingspan is tans op die toneel.
“Ons instandhoudingspan is tans op die terrein en doen ondersoeke om die omvang van skade aan die pompe en elektriese toerusting te bepaal. Inwoners in die geaffekteerde gebiede word versoek om water spaarsamig gedurende hierdie tydperk te gebruik om die impak van die onderbreking te help versag. Verdere opdaterings sal verskaf word sodra meer inligting beskikbaar word.”



