Weggooi katte ‘n probleem in Potchefstroom
Jy kan deel van die probleem of die oplossing wees.

Die oorbevolking van katte in Potchefstroom raak kommerwekkend en alhoewel organisasies soos PAWS mense aanmoedig om hulle diere te steriliseer, is daar steeds mense wat babakatjies by PAWS aflaai of sommer net weggooi.
Eva Michen, wat daagliks ongeveer 150 katte by 14 verskillende stasies rondom Potchefstroom kos gee, het onlangs drie insidente gesien waar mense babakatte weggegooi het.
“In die afgelope paar weke was daar drie voorvalle waar mak huiskatjies by my wildstasies afgelaai is. Mag ek die aandag van daardie individue wat dit doen, vestig op die feit dat hulle nie oorleef nie, want die kolonies aanvaar hulle nie. Die wilde katte byt hulle en jaag hulle. Hulle word nie aanvaar nie en daarom sal hulle doodgaan.”
In slegs twee weke is drie babakatjies by die moskee afgelaai, een katjie by die munisipaliteit en ses babakatjies by die verkeersafdeling/taxistaanplek.
“My pleidooi is, as jy weet van iemand se kat wat babas gehad het en hulle vind skielik wonderbaarlik almal gelyktydig ‘n huis, vra asseblief vrae en as enigiets nie reg lyk nie, stel PAWS daarvan in kennis om ondersoek in te stel. As jy nie huise vir hulle kan kry nie, bring hulle na PAWS en laat die moederkat steriliseer. As jy dit nie kan bekostig nie, praat met PAWS om jou te help! Hou op om arme onskuldige klein babakatjies in wilde kolonies te los en te verwag dat hulle vir hulself moet sorg. Hulle kan nie,” gaan Eva voort.
PAWS moedig mense aan om hulle katte te steriliseer, al is dit ‘n mannetjieskat.






