Man pleit dat hy slagoffer is na diefstal herrie
’n Jong man het ernstige beserings opgedoen ná ’n gewelddadige voorval in Potchefstroom. Die insident volg ná ’n beweerde selfoondiefstal en verskille in weergawes oor wat gebeur het.
‘n Jong man is erg aangerand op 20 Junie omstreeks 04:15 nadat hy glo ‘n selfoon probeer steel het.
Die man wat aangerand was, het na die Herald uitgereik nadat die berig aanlyn verskyn het. Volgens hom, is hy die slagoffer van ‘n geweldadige poging tot roof. Hy het ernstige kopwonde en ‘n kniegbesering tydens die voorval opgedoen. Die man het verduidelik dat hy ongeveer 03:00 op 20 Junie na ‘n aand uit wou huis toe gaan.
“Ek het besef dat my selfoon se battery pap was, en kon nie vervoer reel nie. Ek het drie mans genader om te vra of hulle vir my ‘n geleentheid sal gee waarop hulle ingestem het,”
Volgens hom het die groep by Goudstraat ingedraai en by ‘n woonstelkompleks gestop. Dit was nie waar hulle ooreengetem het om die man heen te neem nie. Daar het glo ‘n argument tussen die man en die ander drie mans ontstaan waarna hulle hom erg aangerand het.
Volgens hom het hy ‘n saak by die polisie gaan aanmeld. Met die Herald se navrae aan die polisie kon die woordvoerders nie die saak nommer wat verskaf is, met die besonderhede van die saak verbind nie. Volgens Kaptein Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, is die saaknommer wat verskaf was ‘n saak van vee diefstal. By die Ikageng polisiestasie is daar geen so saaknommer nie.
“Ek het my brille, horlosie en kontant tydens die aanranding verloor. My selfoon was ook weg maar ek het dit later terug gekry,” het die man wat aangerand is verduidelik.
“Ons het ‘n oproep van inwoners in die woonstelkompleks gekry oor ‘n geraas, dit is toe dat ons ‘n reaksie beampte na die toneel toe gestuur het,” het Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming verduidelik.
Met Mooirivier Beskerming se aankoms is die verdagte reeds deur die groep mans aangerand. Hy het daarin geslaag om te vlug en onder ‘n voertuig weg te kruip. Die groep het die man weer gevind, maar nie verder aangerand nie. Die groep mans het nie ‘n klag by die polisie aangemeld nie
Volgens Haefele het die groep mans aan die reaksiebeampte vertel dat hulle saam gekuier het en die man ontmoet het. Die groep het almal saam na ‘n woonstel op die hoek van Goud en Albert Luthuli gegaan. Die man het glo uit die woonstel uit geloop. Daarna het die groep besef dat een van hulle selfone weg is. Hulle het die verdagte buite die woonstel gekry en hom glo begin aanrand.



