Amelia in die knyp na staatsubsidie onttrek is
Amelia Nasorgsentrum in Potchefstroom staar ’n finansiële krisis in die gesig na ’n skielike 60% subsidie besnyding deur die departement van maatskaplike ontwikkeling.
Die departement van maatskaplike ontwikkeling het onlangs ongeveer 60% van Amelia nasorgsentrum se subsidie gesny.
Amelia nasorgsentrum is ‘n sentrum vir verstandelik gestremde volwassenes, wat tans 115 mense huisves en help.
Die besnoeiing laat Amelia met ongeveer R170 000 per maand minder op hulle begroting.
Volgens Werner Nel, lid van die beheerraad van Amelia, is die verlies aan subsidie skielik aan hulle gekommunikeer.
“Die voortbestaan van die sentrum is in gedrang as gevolg van die departement se subsidie wat hulle gesny het en volgende jaar gaan daar ‘n addisionele 25% gesny word volgens hulle,” het Nel verduidelik.
“Die inwoners is van die mees kwesbaarste mense in ons samelewing. Daar is omtrent 50 sosiale inwoners sonder ouers, en ons beskerming oor hulle en die personeel wat dit doen is ‘n spesiale prioriteit vir ons. Daar is ‘n nood om voedsel vir inwoners te kan koop, personeel salarisse te kan betaal en algemene uitgawes,” het Nel bygesê.
Die Herald het in 2023 al berig oor die benarde finansiële posisie van Amelia. Destyds het die departement teen Junie nog nie ‘n diensleweringsooreenkoms met die nasorgsentrum aangegaan nie, wat gedreig het om die sentrum se deure te laat sluit.
Die Herald het na die Noordwes departement van maatskaplike ontwikkeling uitgereik om te verstaan waarom Amelia se subsidie so drasties gesny is. Teen druktyd het die departement nie op die navrae reageer nie.
Potchefstromers wat die sentrum wil bystaan kan vir John-Martin Parsons, voorsitter van Amelia, by 060 635 2028 kontak.



