Local newsNewsNews

Werklike gevaar as instandhouding ignoreer word

'n Vrou van Bloemfontein is ernstig beseer toe sy in 'n oop stormwaterdrein in Parys val. 'n Voorval wat die aand in 'n nagmerrie laat ontaard het.

Oop mangate, herstelwerk aan waterpype en stormwaterdreine wat nie onderhou word nie, is ‘n alledaagse prentjie in Potchefstroom. Inwoners kla al ‘n geruime tyd oor die gevaar wat die verskynsels vir hulle kan inhou.

In Parys het die gevaar waaroor daar gekla word in ‘n werklikheid verander.

Dit was al donker toe Annelise Moses en haar kollegas by die gastehuis reg by die rivieroewer in Parys aangekom het. Toe sy uitklim het sy die rivier gehoor – so ‘n mooi geluid, vertel Annelise. “Amper asof ek by die strand is.” Maar toe sy omdraai om oor die pad te stap na die gastehuis, gebeur die byna ondenkbare. Annelise het in ‘n oop stormwaterdrein op die sypaadjie in die Esplenade geval.
‘n Gat van 1,2 m diep.

Annelise Moses waar sy verlede Vrydag nog in die hospitaal was na haar nagmerrie-ondervinding.

Meer as twee weke later spook die trauma wat sy die aand van 24 Junie beleef het steeds by haar. Uit haar hospitaalbed in die Busamed Private Hospitaal vertel die Menslike Hulpbronbestuurder van Shoprite hoe sy en van haar kollegas vroeër die dag die Usave-takke in Kroonstad, Viljoenskroon en Vredefort besoek het. Hulle moes nog die Tumahole-tak besoek, maar dit het laat geword. Omstreeks 18:30 is hulle na die gastehuis.
Sy en haar kollega het aan die rivieroewer-kant stilgehou, en haar lynbestuurder aan die oorkant van die pad. Hulle sou inboek, en dan iets by ‘n restaurant gaan eet. Hoewel sy vantevore al in Parys was, was sy nog nooit in dié omgewing waar die gastehuis is nie. Boonop was daar geen straatligte wat gebrand het nie. In ‘n oogwink het die aand in ‘n nagmerrie verander.
Annelise se kollegas en die gastehuis-eienaar moes met ‘n leer probeer om haar uit die stormwaterdrein te kry. Daarna is sy per ambulans na ‘n nabygeleë Netcare-hospitaal vervoer en oornag gemonitor, en toe ontslaan. Maar als was nie pluis nie. Annelise het onbeskryflike pyn gehad. In haar tuisdorp, Bloemfontein, is sy die volgende dag in die Busamed-hospitaal opgeneem.

Dokters was verstom dat sy geen frakture gehad het nie, maar die kneusing aan sagte weefsel, snymerke en trauma het haar teen Vrydag al ‘n week in die hospitaal gehad. Sy sukkel om na die voorval die angswekkende ervaring te verwerk, sê die ma van ‘n matriekseun. “Ek slaap nie in die aand nie,” vertel sy oor wat sy beskou as growwe nalatigheid van die munisipaliteit van dié mooi dorpie waarvoor sy nog altyd so lief was.

Volgens ‘n prokureur Mari Meyer is ‘n munisipaliteit volgens munisipale wetgewing en onderhewig aan die konstitusie, verantwoordelik vir die lewer van basiese dienste deur die skep van nuwe infrastruktuur, en onderhoud van bestaande infrastruktuur.
Daar is gevolglik ‘n regsplig op ‘n munisipaliteit om skade te voorkom, en sorg te dra dat infrastruktuur, wat ook mangate en stormwaterkanale insluit, onderhou word, des te meer waar die publiek die spasie gebruik soos op sypaadjies.

Die voorval is onder die Ngwathe-munisipaliteit se kommunikasie-afdeling se aandag gebring, en sal kommentaar gepubliseer word sodra dit ontvang word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button