Vat verniet-tafel ‘n reuse sukses
Potchefstromers se vrygewigheid het almal se verwagtinge oortref.
Die Vat verniet-tafel vir haweloses projek wat Saterdag, 12 Julie in Mooirivier Beskerming se parkeerarea gehou is, was ‘n reuse sukses.
Mense van oral het donasies afgelaai en verskeie vrywilligers het opgedaag en gehelp uitpak en uitdeel. ‘n Ry behoeftige mense het gevorm nog voor 17:00 aangebreek het.
Nie net kon mense vir hulself skoene, klere, kos, komberse, seep, medikasie en ander benodighede kry nie, elkeen het ook ‘n lekker bak sop, rolletjies, vars pasteitjies en kolwyntjies gekry.
Vrywilligers het ook van die haweloses se voete vir hulle gewas, soos wat Jesus voete gewas het.
Die inisiatief is deur Angelique Lottering en haar vriendin, Janene de Beer, binne net twee dae gereël en uitgevoer. Die aantal donasies wat vanaf Potchefstromers ontvang is, het verwagtinge oortref. Die doel was om Potchefstroom se mees kwesbares te help om toegang te kry tot die alledaagse basiese dinge wat die meeste van ons as vanselfsprekend aanvaar.
Saterdag was ook Janene se verjaarsdag en die middag is met ‘n verjaarsdagliedjie en ‘n gebed geopen.
Angelique en Janene vertel hulle beoog om die projek ‘n permanente instelling te maak en beplan reeds aan die volgende datum.
Indien jy by die inisiatief betrokke wil raak of ‘n donasie wil maak, kan jy vir Angelique by 067 080 2757 kontak.
Kyk na die fotos hier:


















