Local newsNewsNews

’n Viering van taal en uitnemendheid in Potchefstroom

Afrikaans het behoorlik geskitter tydens die Aitsa, Afrikaans! dagprogram by Laerskool Mooirivier, waar onderwysers, dosente en kultuurfigure saamgekom het om hul liefde vir die taal te vier en nuwe onderrigmetodes te ontdek.

Die vakgroep Afrikaans vir Onderwys van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Opvoedkunde het op Vrydag, 20 Junie ’n inspirerende dagprogram getiteld Aitsa, Afrikaans! aangebied.

Die geleentheid, wat by Laerskool Mooirivier plaasgevind het, was vir onderwysers wat Afrikaans as vak onderrig. Dit het met die Afrikaans Amptelik 100-veldtog ter viering van ’n eeu van Afrikaans as amptelike taal saamgeval.

Altesaam 80 mense het die dag bygewoon, waarvan 53 Afrikaans-onderwysers en die ander 17 spesiale gaste van die NWU se Fakulteit Opvoedkunde was. Die program was propvol betekenisvolle inhoud en het bygedra tot die bevordering van kwaliteit onderrig én trots in die taal.

Die dag is op ’n emosionele noot afgeskop deur die Seniorkoor van Laerskool Mooirivier. Met hul klokhelder kinderstemme het hulle die gehoor diep geraak en selfs trane laat vloei het. Daarna het prof. Wannie Carstens, ’n bekende en gerespekteerde figuur in Afrikaanse kringe, as hoofspreker opgetree. In sy insiggewende aanbieding het hy die belangrikheid van entoesiasme en deeglike vakkennis by onderwysers beklemtoon, sleutelfaktore in die kweek van ’n blywende liefde en waardering vir Afrikaans by leerders.

Elma Marais van die vakgroep, Afrikaans vir onderwys,  het met ’n dinamiese en interaktiewe sessie gevolg oor die kreatiewe gebruik van Lego in die onderrig van Afrikaans. Haar aanbieding het op praktiese wyse die kern van prof. Carstens se boodskap ondersteun en verder uitgebrei.

Marlie Coetzee, direkteur van VivA, het daarna ’n oorsig van die organisasie gegee, en Nadine Fouché-Karsten het ’n uitgebreide aanbieding gelewer oor die verskeie vorme van ondersteuning wat VivA aan Afrikaansonderwysers bied. Die sessies het waardevolle hulpmiddels en insigte aan die deelnemers gebied.

Aan die einde van die dag het Deon Meiring die gehoor met sy unieke mengsel van storievertelling en sang in keurige Afrikaans vermaak.

Die terugvoer van onderwysers was oorweldigend positief. Hulle het aangedui dat hulle verryk, geïnspireer en gemotiveerd na hul onderskeie skole teruggekeer het, en het ’n sterk wens uitgespreek dat soortgelyke programme weer in die toekoms aangebied sal word.

Die dag was nie net ’n suksesvolle viering van Afrikaans nie, maar ook ’n waardevolle geleentheid vir onderwysers en dosente om nader aan mekaar te beweeg, mekaar se werk beter te verstaan en ’n grondslag vir toekomstige samewerking te lê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button