Man ry verkeersbeampte van haar voete af
Die man het glo van die toneel weggejaag nadat hy die verkeersbeampte raakgery het.
‘n Man het Saterdag, 9 Augustus ‘n verkeersbeampte van haar voete afgery en glo van die toneel gevlug voordat hy met ‘n vragmotor gebots het.
Kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek drie sake van roekelose en nalatige bestuur, versuim om te stop na ‘n ongeluk en weerstand teen arrestasie nadat ‘n man (20), ‘n vroulike verkeersbeampte gestamp het.
“Die verkeersbeampte was aan diens in Ikageng-rylaan waar beamptes voertuie afgetrek het en vir voldoening aan die wet nagegaan het. Die verdagte het omstreeks 18:15 met die beampte gebots en van die toneel af weggejaag.”
Die verdagte is deur ‘n ander verkeersbeampte agternagesit totdat die bestuurder (verdagte) met ‘n vragmotor van agter op die hoek van Nelson Mandela- en Beyers Naude-straat gebots het.
Die verdagte het ernstige beserings opgedoen en is tans in die hospitaal opgeneem.
Die vroulike verkeersbeampte is in ‘n plaaslike hospitaal opgeneem, maar is sedertdien uit die hospitaal ontslaan.
Die ondersoek duur voort.



