NWU-kenner waarsku teen tenderpreneurs by korrektiewe dienste
Dr. Casper Lötter van NWU waarsku dat tenderpreneurs en korrupsie by Korrektiewe Dienste die gevaarlike tronkindustrie-kompleks versterk.
“Die onlangse aanval van sogenaamde tenderpreneurs op Pieter Groenewald, Minister van Korrektiewe Dienste, het ’n bitter smaak in my mond gelaat,” sê dr. Casper Lötter, konflikkriminoloog aan die Noordwes-Universiteit (NWU). Hy meen die voorval herinner sterk aan die berugte Bosasa-tender- en korrupsieskandaal van die Zuma-jare.
Volgens Lötter kom dieselfde verskynsel nou weer na vore in die Departement van Korrektiewe Dienste. “Ek was waarskynlik een van die eerste akademici in Suid-Afrika om hierdie verskynsel bekend as die Prison-Industrial-Complex (PIC te ondersoek. Hierdie nuwe tenderkontrakte beloop miljarde rande en minister Groenewald het tereg vrae daaroor gevra,” verduidelik hy.
Hy verwys na Eric Schlosser se beskrywing van die PIC as “tronkuitbreiding sonder enige werklike behoefte.” Hierdie behoefte ontbreek, sê Lötter, omdat Suid-Afrika se stigmatiserende kultuur dit byna onmoontlik maak vir oudgevangenes om werk te kry, verhoudings te bou of volhoubaar te herintegreer. Dit lei tot herhaaldelike misdrywe en ’n siklus van herval.
Bekende denkers soos Michelle Alexander en Loïc Wacquant beskryf dit as ’n “geslote kringloop van voortdurende marginalisering.” Duisende mense word jaarliks uit die tronk vrygelaat, net om weer uit die samelewing en ekonomie uitgesluit te word.
Vir Lötter is hierdie “draaideur-effek” geen toeval nie. “Die PIC dra direk by tot hoë vlakke van herval omdat tronkuitbreiding , waar daar geen noodsaak is nie, hoofsaaklik oor winsbejag gaan. Dit is presies wat die tenderpreneurs wat Groenewald se afdanking eis, probeer bevorder,” waarsku hy.
Hy verwys na sy 2020-navorsing, gepubliseer in die Unisa-tydskrif Phronimon, waar hy bevind het dat die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping ernstige korrupsie en samewerking tussen die Departement van Korrektiewe Dienste en sy korporatiewe vennote blootgelê het. “Dienste is teen buitensporige pryse gelewer en dit was die doel van die hele oefening,” sê hy.
Volgens Lötter is misdaad nooit net aan een oorsaak gekoppel nie, maar die bestaan van die PIC as ’n meganisme om wins te maak uit ander mense se ellende, is ’n kernprobleem. “Die stigmatisering van oudgevangenes is waarskynlik die grootste drywer van herval in Suid-Afrika.”
Hy glo die hoë hervalkoers in die land kan ten minste gedeeltelik verklaar word deur ’n departement wat gevangenes “herwin vir wins,” eerder as om hulle te rehabiliteer. Publieke fondse wat na onnodige tronkuitbreiding gaan, behoort eerder in onderwys, gesondheid, padonderhoud en behuising belê te word, voer hy aan.
“Tronkstraf as ons hoofstrafopsie het ons nie veiliger gemaak nie. Ander Afrika-sentriese alternatiewe, soos gemeenskapsdiens en herstellende geregtigheid, moet ernstig oorweeg word,” sê Lötter.
Hy waarsku verder teen die valse beroep op BBEEE. “Laat ons nie mislei word deur diegene wat voorgee dat hierdie praktyke deel van swart bemagtiging is nie. Dit is bloot bedrog en diefstal van die staatskas.”
Lötter se boodskap is duidelik: “Ons moet die herlewing van hierdie Amerikaanse monster, die Prison-Industrial-Complex, in Suid-Afrika teengaan. Dit is ’n ernstige bedreiging vir openbare veiligheid. Hierdie tenderpreneurs gee nie om oor die veiligheid van gewone Suid-Afrikaners nie – hulle soek net wins. In hierdie stryd teen misdaad en staatskaping verdien minister Groenewald ons volle steun.”



