AfriForum Jeug eis ferm standpunt oor “Kill the Boer”
AfriForum Jeug en NWU-studente het in Potchefstroom betoog en ’n petisie met meer as 6 000 handtekeninge oorhandig.
AfriForum Jeug, saam met studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus, het op 11 September teen die universiteit se stilswye oor die sing van die “Kill the Boer”-dreunsang betoog.
Die betogers het ’n petisie met meer as 6 000 handtekeninge aan die universiteitsbestuur oorhandig. In die dokument word geëis dat die dreunsang op alle NWU-kampusse verbied word.
Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug, het die petisie aan dr. Corrie Rheeder, direkteur van Studentelewe op die Potchefstroom-kampus, oorhandig. Studente en AfriForum Jeug-lede het ook ’n reusebanier met die woorde “Veroordeel ‘Kill the Boer’” onderteken om hul steun te toon.
Die protes volg nadat ’n groep studente op 5 Junie vanjaar die dreunsang buite universiteitskoshuise op die Weskampus aangehef het. AfriForum Jeug het reeds op 6 Junie ’n amptelike brief aan die visekanselier, prof. Bismark Tyobeka, gerig waarin ’n ondubbelsinnige veroordeling geëis is.
Die universiteit het ’n verklaring uitgereik waarin dit sê dat die NWU “bewus is van die insident wat na bewering dreunsang ingesluit het” en dat die instelling enige skending van menseregte en waardes afkeur.
“Die universiteit het met die nodige ondersoek na die beweerde voorval begin.
Ons verseker ons belanghebbendes dat enigiemand wat skuldig bevind word daar in ooreenstemming met toepaslike reëls en regulasies ferm opgetree sal word,” lees die verkalring wat die NWU destyds uitgereik het.
Volgens Gerber is die universiteit se reaksie onvoldoende. “Om nie die dreunsang by die naam te noem nie, skep die indruk dat dit eenvoudig aanvaar word. Dit is ’n lied wat openlik geweld teen ’n spesifieke groep oproep, en dit kan nie verswyg word nie,” sê sy.
Sy meen die bestuur se gebrek aan optrede teen die betrokke studente is onaanvaarbaar. Daar is selfs gerugte dat hulle net tydelik geskors is vir “luidrugtige optrede” tydens die toetstydperk, maar dit is nooit amptelik bevestig of gekommunikeer nie.
Gerber beklemtoon dat AfriForum Jeug nie tevrede is met vae stellings nie. “Hierdie dreunsang wek vrees, saai verdeeldheid en plaas studente se veiligheid in gevaar. Ons eis dat die universiteit dit ondubbelsinnig veroordeel, bevestig dat dit teen die studentegedragskode indruis en dat dissiplinêre stappe teen die betrokke studente geneem word.”
“Die NWU het ’n morele verantwoordelikheid om te wys dat haatspraak nie op ’n akademiese kampus geduld word nie. Stilte of vaagheid hieroor is niks anders as aandadigheid nie,” het Gerber gesê.
Volgens Louis Jacobs, Direkteur van korporatiewe kommunikasie by die NWU, erken die universiteit ontvangs van die petisie wat deur AfriForum Jeug op Donderdag 11 September 2025 ingedien is.
“Die universiteit waardeer konstruktiewe betrokkenheid met alle belanghebbendes en bly daartoe verbind om sake van belang met billikheid, integriteit en deursigtigheid te hanteer. In ooreenstemming met sy gevestigde bestuursraamwerk, sal die petisie deur die NWU se interne prosedures aangespreek word. Hierdie prosesse is ontwerp om te verseker dat kwessies deeglik oorweeg word, gelei deur die beginsels van aanspreeklikheid en respek vir behoorlike proses,” het Jacobs verduidelik.



