Produksie bring skreeusnaakse absurditeit na Aardklop
Hierdie produksie was topverkoper by Innibos 2024 en dit sal ook die laaste keer wees wat dit op die planke gesien sal wees.
Gedeelde badkamers, alewige geraas, buisligte wat permanent brand, skerp reuke wat ander reuke probeer verdoesel, kieme wat aan alles vasklem en die vriendelike kombuissuster wat jou probeer oortuig jy bestel van ‘n top a la carte menu.
HOSPITALE, KATETERS EN FAMILIELEDE – ‘n skreeusnaakse, absurde komedie wat almal wat al ooit iets met ‘n hospitaal te doen gehad het, sal laat skaterlag en soms ‘n traan laat pik. Altesaam 14 Karakters vertel in hierdie unieke produksie hul eie storie oor prosedures, verhoudings en familie soos net in ‘n hospitaal opgedis kan word.
Die stories, karakters, absurde prosedures en mediese toerusting laat veel te wense oor vir hierdie siele, wat saam ‘n stryd voer in wat amper na ‘n hopelose situasie lyk. Tog is daar iets om te ontdek en te leer by ander, die wat saam met ons deur ons donkerste ervarings gaan, raak tog ons beste vriende…of dalk nie.
Kom ontmoet die verpleegters, dokters, pasiënte en familielede en selfs ‘n worshond, wat ‘n eg Suid-Afrikaanse skaterlag storie, soos net in ons land kan geskied, vertel.
‘n Stryd om oorlewing word hier gevoer, deur hoogs-menslike karakters wat per toeval in ‘n nuwe, vreemde, geforseerde vriendskap kameraadskap moet vind, met skreeusnaakse gevolge.
Slegs een vertoning by Aardklop 2025: Saterdag 11 Oktober 9:30
Koop jou kaartjies hier: https://www.webtickets.co.za




