Milly se klein pootjies bring groot vreugde by Samuel Broadbent
Milly se kuiertjie was ‘n bewys dat dit soms die kleinste pootjies is wat die grootste spore in mense se harte trap.
Daar is min dinge wat ‘n mens se hart só vinnig kan warm maak soos die sagte pootjies van ‘n worshondjie met ‘n groot hart. Milly, ‘n skattige inwoner van PAWS Haven, het onlangs die inwoners van Samuel Broadbent behoorlik bekoor tydens haar spesiale besoek.

Met haar vriendelike ogies en swaaiende stert het sy van kamer tot kamer beweeg en liefde uitgedeel waar sy gaan. Glimlagte het spontaan verskyn, hande het uitgereik om haar sagte pels te streel en harte het sommer ligter gevoel. Dit was duidelik, Milly se klein lyfie dra ‘n groot dosis vreugde.

Vir baie van die inwoners was haar besoek meer as net ‘n oulike onderbreking van die dag. Dit was ‘n herinnering aan troeteldiere wat hulle self eens gehad het, aan staproetes, nat neuse en onvoorwaardelike liefde. In daardie oomblikke het stories weer geleef en oë weer geblink.

Volgens PAWS Haven is hierdie besoeke deel van ‘n mooi tradisie. Gereeld word een van hul honde of katte na Samuel Broadbent geneem, nie net om die oumense se harte bly te maak nie, maar ook sodat die diere self liefde en aandag kan ervaar.




