Local newsNewsNews

Video: Water stroom ná pyp by Landboukollege bars

Die pyp het twee keer in twee dae gebars en munisipale werkers is tans besig om die lekkasie te herstel.

’n Groot asbes-waterpyp wat 2 Maart naby die ingang van die Landboukollege gebars het, en ’n tweede barsing op dieselfde lyn ’n dag later, het die reeds gespanne waterkrisis in die JB Marks-munisipaliteit weer onder die vergrootglas geplaas.

Volgens Theo Venter, die DA se burgemeesterskandidaat vir JB Marks in Noordwes, is die toneel by die terrein ’n tasbare bewys van ’n infrastruktuur wat besig is om te verbrokkel. Venter het die terrein persoonlik besoek.

“Dit wat ons hier sien, is nie ’n geïsoleerde voorval nie; dit is deel van ’n groter patroon van verval. Inwoners leef daagliks met wateronderbrekings, riool wat oorloop en waterdruk wat eenvoudig nie daar is nie.”

Madra de Bruin, DA-raadslid, sê sy het die kwessie Vrydag reeds in die raadsaal geopper, sonder sukses.

“Ons hele infrastruktuur val uitmekaar. Toe ek na die situasie Vrydag (27 Februarie) in die Raadsaal noem, toe is dit chaos,” het De Bruin gesê.

Sy sê inwoners word daagliks gekonfronteer met herhalende pypbarsings, aanhoudende rioolstortings, lae of geen waterdruk en infrastruktuur wat kort ná herstelwerk weer faal.

“In sommige gebiede vloei rou riool steeds in mense se erwe in. Tog word ’n dokument aan ons voorgehou wat beduidende beleggings in water en sanitasie voorhou. Die Raad kan nie die groeiende gaping tussen finansiële voorleggings en die werklikheid waarin inwoners leef ignoreer nie,” het sy gesê.

Die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit het bevestig dat hulle 2 Maart ’n kennisgewing ontvang het oor ’n gebarste asbes-waterpyp naby die Landboukollege se ingang. Volgens Jeanette Tshite, munisipale woordvoerder, is ’n tweede barsing 3 Maart, op dieselfde gedeelte van die pyplyn aangemeld, wat die integriteit en stabiliteit van die toevoerlyn in die gebied verder geraak het.

“Munisipale tegniese spanne is ontplooi en werk ywerig op die terrein om ’n volledige assessering te doen en die nodige regstellende maatreëls te implementeer, in ooreenstemming met gevestigde ingenieursstandaarde, om die veilige en doeltreffende herstel van die waterlyn te verseker,” het Tshite gesê.

Volgens haar is herstelwerk in ’n gevorderde stadium en, mits daar geen onvoorsiene tegniese komplikasies is nie, word volle herstel van die watertoevoer voor die einde van die week verwag.

“As ’n noodmaatreël om diensonderbrekings te beperk, is munisipale watertrokke ontplooi om tussentydse watervoorsiening aan geraakte instellings te lewer, insluitend die Departemente van Water en Sanitasie en Landbou,” het sy bygevoeg.

Terwyl die munisipaliteit volhou dat die situasie onder beheer is, dring opposisieraadslede daarop aan dat die jongste voorval net nóg ’n simptoom is van ’n stelsel wat reeds lank onder druk is en dat inwoners meer as beloftes nodig het.

Kyk na die video hier:

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button