Noordwes verkry eerste 100 000 dosisse Bek-en-klou entstowwe
Die JB Marks area word die ergste in Noordwes geaffekteer en daarom is daar besluit om die eerste gedeelte van die 100 000 Biogenesis Bago entstowwe vanaf Argentinië, proposioneel hier toe te dien.
Die eerste Bek-en-klouseer entstowwe is verlede week (Woensdag, 4 Maart) in Noordwes by die Machavie navorsingsplaas naby Potchefstroom toegedien. Die JB Marks area word die ergste in Noordwes geaffekteer en daarom is daar besluit om die eerste gedeelte van die 100 000 Biogenesis Bago entstowwe vanaf Argentinië, proposioneel hier toe te dien. Nasionaal is daar 1 000 000 Biogenesis Bago entstowwe ontvang. Daar het ook ‘n vrag van 1,5 miljoen Dolvett-entstowwe vanaf Turkiye verlede week in Suid-Afrika gearriveer.
Die LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling, Madoda Sambatha, het tydens ‘n perskonferensie by die Potchefstroom Landboukollege genoem dat daar 158 Bek-en-Klouseergevalle in Noordwes op datum aangemeld is.
“Daar is 1.4 miljoen beeste in die provinsie. As die entstowwe twee keer herhaal moet word, sal 2.8 miljoen entings nodig wees,” het Sambatha verduidelik.
Die entingsstrategie sal plase en dorpe binne ’n 5 km-radius van besmette gebiede prioritiseer. Die doel is om 90% van die beeskudde in ooreenstemming met nasionale teikens in te ent.

Volgens Dr Langa Madyibi, direkteur van veeartsenydienste in Noordwes, is daar ‘n beperkte aantal entstowwe tans en sodoende sal spesifieke kriteria gevolg word. Die eerste risikoarea waar gefokus word is daar waar gevalle aktief is.
“Ons fokuspunt is ook by plase wat aan buffelplase grens. Buffels is draers van Bek-en-Klou. Daar moet deur middel van die entings ’n buffer geskep word sodat die siekte nie na die plase waar buffels is, versprei nie,” noem Madyibi.


Die verspreiding van die entstof sal uitsluitlik deur die staat hanteer word. Individuele boere mag nie self entstowwe aankoop nie.
Sambatha het ook ‘n boere versoek om enige verdagte simptome onmiddellik aan te meld en om nie vee te verskuif waar besmetting vermoed word nie.
“Noordwes was oorspronklik een van die drie provinsies wat die ergste geraak is, saam met Gauteng en KwaZulu-Natal. Bek-en Klouseer is as ‘n nasionale ramp verklaar. Dit is belangrik dat gevalle rapporteer word sodat ons statistieke op datum is en die plase waar gevalle is voorkeur kry.”



