Vroue in gewapende rooftogte in MC Roode geteiken
’n Beroep word op inwoners gedoen om ekstra versigtig te wees wanneer hulle dié roete gebruik
Inwoners word gemaan om uiters waaksaam te wees ná berigte van gewapende rooftogte in MC Roode-straat tussen Govan Mbeki-rylaan en die R501-kruising gerapporteer is.
Volgens inligting word veral vroulike drawwers en fietsryers op dié roete geteiken.
Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, sê minstens twee voorvalle is onlangs by die sekuriteitsmaatskappy aangemeld, maar daar is aanduidings dat meer soortgelyke insidente reeds plaasgevind het.
“Een geval het naby The Roots plaasgevind en die ander naby die afdraai na deLand toe. Mense het egter ook ander gevalle, wat nie by ons gerapporteer is nie, op die brug beleef,” sê Haefele.
Hy doen ’n beroep op inwoners om ekstra versigtig te wees wanneer hulle dié roete gebruik, veral vroegoggend of laatmiddag.
Mooirivier Beskerming waarsku dat mense verkieslik nie alleen op dié roete moet stap, draf of fietsry nie en dat enige verdagte aktiwiteit onmiddellik aangemeld moet word.
In geval van ’n noodgeval kan die Mooirivier Beskerming-beheerkamer by 018 297 0796 geskakel word. Inwoners word ook aangemoedig om die waarskuwing te deel om ander in die gemeenskap bewus te maak van die moontlike gevaar.




