Meer antwoorde oor redes vir Mariné se sterfte
Dokters noem dat Mariné aan 'n rare endokriene-siekte, Cushing disease, gely het. Tesame met 'n aggressiewe swamsiekte en bloedinfeksie kon haar lyf nie meer veg nie.
’n Dag nadat Mariné Pretorius (13) op Donderdag, 5 Maart aan komplikasies weens ’n vermoedelike swamsiekte en bloedinfeksie oorlede is, het dokters die hoofoorsaak aan haar gesin bevestig.
Dokters van Potchefstroom Hospitaal het op Vrydag, 6 Maart meegedeel dat Mariné aan Cushing-sindroom gely het. Dit lei tot Cushing-siekte wat verband hou met ’n gewas wat in die pituïtêre klier groei. Hierdie gewasse produseer oormatige kortisol in die liggaam. Simptome van Cushing-siekte sluit in gebrekkige immuniteit, ’n geswelde gesig (maangesig), sowel as ’n toename in gewig rondom die buik en verhoogde moegheid.

Weens haar gebrekkige immuniteit het die swamsiekte (Candida lusitaniae) sowel as die bloedinfeksie (Staphylococcus haemolyticus) ook verdere skade aangerig en ’n rol in haar afsterwe gespeel.
Een van die groot problematiese aspekte is dat beide die swamsiekte in haar longe en die bloedinfeksie baie weerstandig is en erge komplikasies kan veroorsaak.
Volgens haar ma, Senobia, het Mariné verskriklik vinnig agteruitgegaan en het sake vererger tot op die punt waar haar liggaam nie meer teen die siektes kon veg nie. In die kwessie van drie weke het sy van maagpyn tot in die intensiewesorgeenheid van die Potchefstroom Hospitaal gegaan, terwyl dokters haar lewe probeer red het.
“Verlede Woensdag het hulle haar geressusiteer, maar daar was tekens dat sy nie meer breinaktiwiteit gehad het nie. Ek was nog saam met my ma besig om vir haar klere Donderdagoggend te koop toe hulle my bel en sê dat sy weer geressusiteer moet word. Ons het dadelik hospitaal toe gegaan. Die dokters kon haar nie weer red nie,” vertel Senobia.
Aanvanklik was daar baie vrae, aangesien alles baie skielik gebeur het.
“Ek onthou die dokter het die nuus van haar afsterwe gedeel, maar wat hy alles gesê het, was toe vir my soos ’n blank. Eers toe hul Vrydag met ons praat en meer verduidelik, kon ek verstaan wat gebeur het,” sê Senobia.
Haar ma noem dat hulle nie die tekens kon sien nie en onbewus was dat Mariné die sindroom gehad het.
“Sy was ’n gesonde kind en sou nou en dan ’n ligte verkoue kry. Haar liggaamsbou en simptome dui op die sindroom, maar dit kon eers nou bevestig word. Ek hoop dat dit wat met haar gebeur het, meer mense bewus sal maak van hierdie sindroom,” vertel haar ma.
In hierdie moeilike tyd is die Potchefstroomse gemeenskap, veral haar skool, Hoër Volkskool Potchefstroom, steunpilare vir die familie. Senobia sê die skool het van dag een af hul hande en harte oopgemaak.
“Volkies help met die begrafniskostes en ander mense help ook met donasies om alles te dek. Dit help ons gesin verskriklik baie. Almal se gebede van oraloor Noordwes en die land is ook ongelooflik,” meen Senobia.
Mariné se roudiens vind op Vrydag, 13 Maart om 11:00 by die NG Kerk Vyfhoek in Richardsonstraat, Bailliepark plaas.

Wat is Cushing-sindroom/siekte?
Cushing-siekte is ’n seldsame toestand wat voorkom wanneer die liggaam vir ’n lang tyd te veel van die hormoon kortisol produseer.
Oorsake:
- ’n Gewas in die pituïtêre klier (geleë op die basis van die brein, onder die hipotalamus) wat te veel ACTH-hormoon vrystel.
Algemene simptome:
- Gewigstoename veral om die bolyf
- ’n Ronde en geswelde gesig (“maangesig”)
- Dun arms en bene
- Pers rekmerke op die vel
- Hoë bloeddruk en moegheid
- Swakker immuniteit
Behandeling
- Sekere medikasies kan geneem word om kortisol produksie te verminder.
- Die gewas kan ook met ‘n operasie verwyder word.
Bron: www.endocrine.org.



