Dit is weer tyd vir Dorp van die jaar
Vir Potchefstroom se inwoners is die boodskap eenvoudig: nomineer, stem en staan saam vir die dorp.
Potchefstroom se inwoners word aangemoedig om saam te staan en ons dorp te benoem vir vanjaar se Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie. Die gewilde kykNET-program gee dorpe regoor Suid-Afrika en Namibië die kans om hul gemeenskappe, geskiedenis en unieke karakter op nasionale televisie te wys.
Met sy ikoniese bome, lewendige naglewe en sterk gemeenskapsgees glo inwoners Potchefstroom het alles wat nodig is om die gesogte titel te wen. Die dorp was verlede jaar ’n finalis, maar het uiteindelik teen Bloemhof vasgeval.
Inwoners hoop egter dat Potchefstromers vanjaar saam sal staan om hul dorp nog ’n kans te gee om as Dorp van die Jaar gekroon te word.
Wie kan deelneem?
Enige dorp in Suid-Afrika of Namibië kan benoem word, mits dit:
- Minder as 500 000 inwoners het;
- Nie in die afgelope twee jaar ’n streekswenner was nie
- Nie in die afgelope ses jaar die algehele wenner was nie.
Hoe werk die benoemings?
Benoemings vir gunstelingdorpe het 1 Maart om 19:00 geopen en sluit 13 Maart om 12:00.Die publiek kan hul gunsteling dorp benoem deur die dorpsnaam na 33157 te SMS. Elke SMS kos R1,50, en daar is geen beperking op hoeveel keer ’n dorp benoem kan word nie, solank net een dorpsnaam per SMS gestuur word.
Die kompetisie word in nege streke verdeel:
- Gauteng en Noordwes
- Noord-Kaap
- Oos-Kaap
- Wes-Kaap
- Vrystaat
- Limpopo
- Mpumalanga
- KwaZulu-Natal
- Namibië
Uit elke streek sal die drie dorpe met die meeste benoemings deurdring na die semi-finale rondes, wat op 12 April, 19 April en 26 April plaasvind. In dié fase kan die publiek vir ’n week lank vir hul gunsteling dorp stem, met ’n maksimum van 30 SMS’e per nommer.
Die dorp met die meeste stemme in elke streek sal deurdring na die finale rondte.
Finale rondte en groot prys
Kwêla sal ’n televisiesegment oor elk van die nege finaledorpe verfilm voordat die publiek weer kan stem.
Die finale stemming open op 12 Julie om 19:00 en sluit 17 Julie om 12:00.
Die wenner van Kwêla se Dorp van die Jaar 2026 word na verwagting op 2 Augustus 2026 aangekondig.
Die wendorp ontvang:
- R1m se bemarkingswaarde van kykNET,
- ’n 45-sekonde televisie-advertensie oor die dorp wat op kykNET uitgesaai word, en
- ’n groot viering met musiek, kos en vermaak wat deur Kwêla verfilm sal word.
Daarbenewens skenk Lottoland R1m kontant vir die dorp om in plaaslike projekte terug te ploeg. Finaledorpe moet vooraf ’n besigheidsplan indien oor hoe die moontlike prysgeld aangewend sal word.



