Local newsNewsNews

Vriendelike Potchefstromers help karsleutels soek

‘n Verlore karsleutel het ’n hele groep mense laat saamspan om te help soek.

Potchefstromers skroom nie om in te spring en te help nie. Dit is een van die mooi dinge van dié gemeenskap.

’n Oënskynlik klein voorval het verlede week langs die oewer van die Mooirivier in Potchefstroom in ’n besonderse storie van omgee, samewerking en dankbaarheid ontaard toe ’n vrou se verlore karsleutel ’n hele gemeenskap se harte en flitsligte aan die werk gesit het.

Winnefred Swanepoel het 2 Maart saam met haar dogter en haar 89-jarige moeder rustig op die groen grasperk by Groen Wilgers langs die Mooirivier gekuier voordat hulle na Buhrmannsdrift sou vertrek. Maar toe hulle gereed maak om te ry, was die karsleutel skielik spoorloos.

Wat aanvanklik soos ’n eenvoudige soektog gelyk het, het gou in ’n klein gemeenskapsaksie verander. Verskeie mense wat pas klaar vis gevang het, het spontaan aangebied om te help. Met kopligte, foonliggies en flitse is die gras en rivieroewer deursoek in ’n poging om die verlore sleutel op te spoor.

“Ek wil net vir almal baie dankie sê wat daardie aand saam gesoek het,” sê Swanepoel. “Dit was mense wat ons nie eens geken het nie, maar hulle het sonder huiwering hul tyd gegee.”

Onder dié wat sy by naam kon onthou, was Damon van Heerden, Susan, en Jurgen. Die soektog het egter dié aand niks opgelewer nie, en Swanepoel en haar familie moes noodgedwonge ander planne beraam. Haar broer, John Klopper, het ingespring om te help, nie net met die soektog nie, maar ook deur verblyf vir twee nagte te reël terwyl hulle gewag het dat ’n spaarsleutel per koerier gestuur word.

Intussen het Mooirivier Beskerming ook ’n wakende oog oor die voertuig gehou om seker te maak dat niemand met die motor wegkom nie. Die volgende skakel in die ketting van hulp het by ’n koeriermaatskappy gekom waar personeel laatnag ingespring het om ’n klein pakkie tussen duisende ander op te spoor.

“’n Spesiale woord van dank gaan aan die area-bestuurder, Justin, en die takbestuurder, Lizelle, saam met die hele Courier Guy-span wat tot 02:00 in die oggend gewerk het om ons pakkie betyds te kry sodat dit saam met die Potch-trokkie wat 04:00 vertrek, kon gaan,” vertel Swanepoel.

Hulle het ook seker gemaak dat die spaarsleutel veilig by die familie uitkom. Nog ’n belangrike skakel in die storie was Swanepoel se dogter, Lente, wat volgens haar ma self baie opgeoffer het om te help en uiteindelik ook die spaarsleutel by die koerier kon gaan afhaal.

En toe, twee aande ná die eerste paniek, asof die storie nog ’n laaste verrassing inhou, het die oorspronklike karsleutel skielik weer te voorskyn gekom. Vir Swanepoel bly die ervaring ’n kragtige herinnering aan hoe mense vir mekaar kan opstaan wanneer iemand in die moeilikheid beland.

“Ek prys ons Hemelse Vader wat in Sy groot genade al hierdie mense op ons pad gestuur het en boonop gesorg het dat ons uiteindelik weer die regte karsleutel kry,” sê sy.

Wat begin het as ’n verlore sleutel langs ’n rivier, het uiteindelik ’n storie geword van liggies in die donker, nie net van flitse en kopligte nie, maar ook van mense se goedhartigheid.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button