SportSport

Luiperds en Cheetahs maak hul slagtande skerp vir katgeveg op Olënpark

Hierdie Vrydag om 18:30 gaan die Luiperds en Cheetahs volstoom beweeg om hul eerste sege in vanjaar se SA Bekertoernooi te behaal.

Hierdie Vrydag 13 Maart kan plaaslike rugbyondersteuners hul weg na Olënpark vind vir top gehalte SA Bekerrugby wanneer die Luiperds en Cheetahs mekaar die stryd aansê.

Beide spanne het hul eerste wedstryde verlede naweek verloor, met die Luiperds wat met 101-7 teen die Griekwas stert tussen die bene terug Potch toe is. Die Cheetahs het met 34-22 teen die Boland Kavaliers vasgeval. Dit was ‘n groter skok met dié dat die nederlaag in Bloemfontein plaasgevind het.

Die Luiperds lek hul wonde die afgelope week en weet dat hulle ‘n baie beter vertoning voor hul tuisskare sal moet lewer.

Die Luiperds het drie veranderinge in hul 15-tal gemaak met Babalo Makana wat op slot inkom, sowel as Brandon Keevy op buitesenter, Noegh Hayward op heelagter wat in die beginspan speel. Die Luiperds se haker, Jason Alexander, sal weer sy span lei.

Die Luiperds is gereed om weer op Olënpark hul slag te wys. Hier is die regtervleuel, Sino Tshontyi. Foto: Griekwas Facebookblad

“Dit was ‘n taai wedstryd in Kimberley en Griekwas as Curriebeker-kampioene was baie klinies. Ons het dit ook maklik vir hulle gemaak met die hoeveelheid foute wat ons gemaak het,” noem Luiperds hoofafrigter Riaan van Straten.

Volgens hom gaan die Luiperds aan hul balbesit en balretensie werk. Hy meen die Luiperds is uiters gevaarlik op die aanval, maar kan nie die bal lank genoeg behou nie.

“Ons planne werk. Ons verloor net die bal hopeloos te maklik. Ons moet beter oorgange hê tussen aanval en verdiging,” verduidelik hy.

 “Dit was ‘n vuurdoop vir die jong groep, maar soos die Bybel sê, ‘ons verheug ons in ons swaarkry, want swaarkry kweek volharding en volharding kweek egtheid van geloof.’ Die eerste tree is gevat so die wiele rol nou.”

Die Cheetahs haker, Louis van der Westhuizen. Van der Westhuizen het in die verlede vir die Luiperds op Olënpark uitgedraf.
Foto: Johan Pretorius Photography.

Die Cheetahs, onder leiding van oud-Springbok Frans Steyn, sal beslis ook ‘n punt wil bewys. Sy span het ondanks ‘n goeie tweede helfte, stadig teen die Kavaliers begin. Die slot, Victor Sekekete is terug vir die Cheetahs en sal die span aanvoer. Die oud-Luiperd en NWU haker, Louis ‘Chucky’ van der Westhuizen, sowel as manne soos Gideon van der Merwe, Curtley Thomas, Daniel Maartens, Ethan Wentzel en Clayton Blommetjies kan sake vir die Luiperds bemoeilik.

Van Straten voeg by dat sy span weer op die veld is en alle fokus op die Cheetahs plaas wat Vrydag gaan kom kuier.

“Die manne het hard gebloei en het die verloor op die ken gevat. Ons is nie 100 punte swakker nie. Ons sien uit na die Cheetah-wedstryd wat nog meer fisies gaan wees. Ons is reg vir hulle en gaan hard werk om ons ondersteuners trots te maak.”

Die dag beloof om rugby vir die hele gesin te bied. Vanaf 16:45  sal die Future Stats o7 Rugby Tag (Baillie Park) plaasvind. Om 16:25 sal Laerskool Stilfontein teen Laerskool Noordvaal kragte meet in die voorwedstryd. Om 18:30 skop die groot wedstryd tussen die Luiperds en Cheetahs af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button