Rioolramp by Landboukollege amper iets van die verlede
Die probleem het laasjaar ontstaan en na maande, is verligting uit eindelik in sig.

Binnekort sal daar nie meer riool water in die Mooirivier inloop nie.
Daar is uiteindelik lig aan die einde van die tonnel vir inwoners en besighede wat al maande lank gebuk gaan onder ’n ernstige rioolkrisis by die Landboukollege in Potchefstroom.
Teen 11 Maart was die diep rioolgat wat oopgegrawe is vir herstelwerk, meestal toegegooi en is die munisipaliteit besig om tans ‘n mangat in te sit.
DA-wyksraadslid van Wyk 4, Johan Zerwick, sê die herstelwerk is nou op die hond se stert en sal binne die volgende paar dae finaal klaargemaak wees.
Die probleem het reeds middel-Desember begin toe ’n 600 mm sementpyp op ’n hoofrioollyn, wat afvalwater vanaf Ikageng en Potchindustria vervoer, ingegee het.
Die pyp loop onderdeur die Landboukollege na die rioolplaas, en die infrastruktuurfaling het tot ’n ernstige ophoping van rou riool gelei.
Afvalwater het deur stormwaterdreine begin vloei en uiteindelik in die Mooirivier beland.



