Polisielid sterf in ongeluk op N12 naby Stilfontein
Die omstandighede rondom die ongeluk word nog ondersoek.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Noordwes het hul hartseer uitgespreek ná die dood van ’n polisielid wat Woensdagoggend, 11 Maart, in ’n motorongeluk op die N12 naby Stilfontein gesterf het.
Konstabel Shalone Shandrey Meyer (37) is oorlede nadat die staatsvoertuig waarin sy ’n passasier was, in die vroeë oggendure in ’n ongeluk betrokke was.
Volgens die polisie was vier lede in ’n staatsvoertuig, ’n Nissan Lavina, onderweg toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het. Die voertuig het glo van die pad af gegaan en teen ’n boom gebots.
Konstabel Meyer is op die toneel deur nooddienste dood verklaar.
Drie ander polisielede, twee mans en een vrou tussen die ouderdomme van 24 en 33, het ernstige beserings opgedoen en is per helikopter na ’n hospitaal in Gauteng vervoer vir verdere behandeling.
Kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in die Noordwes, het gesê die polisie is diep getref deur die voorval.
“Die SAPS-bestuur in die Noordwes is hartseer oor die dood van konstabel Shalone Shandrey Meyer wat haar lewe in ’n motorvoertuigongeluk verloor het,” het Myburgh gesê.
Die waarnemende provinsiale kommissaris, maj. genl. (dr.) Ryno Naidoo, het intussen sy medelye aan Meyer se familie, vriende en kollegas oorgedra en ook die beseerde lede ’n spoedige herstel toegewens.



