Local newsNews

Luiperds spring in om hondjie te red

Die Luiperds rugbyspelers het ekstra oefening ingekry toe hul onverwags vir Paws Haven moes help om, Blackie, op te spoor en te vang.

Wat begin het as ’n gewone besoek aan Paws Haven, het vinnig ontaard in ’n dag vol spanwerk, modderpaaie, vinnige voete en ’n hondjie wat uiteindelik weer veiligheid gevind het.

Die Luiperdsrugbyspan het onlangs by Paws Haven gaan inloer om bietjie met die honde te stap, vars lug en liefde te gee. Dit is iets wat volgens Simoné Kotzé, een van PAWS Haven se vier direkteure, almal se harte warm gemaak het.

“Dit was een van daai dae wat alles net die moeite werd maak. Wanneer almal hande vat en inspring om ons gemeenskap se diere se lot te verander,” vertel Simoné.

Zac Bester speel met een van die honde. Foto: Paws Haven/Facebook

Volgens haar het afrigter Riaan van Straten die besoek gereël sodat die jong rugbyspelers nie net tyd met die diere kon deurbring nie, maar ook iets kon leer uit hul stories van oorlewing.

“Hy wou die manne blootstel aan diere wat, ten spyte van hul agtergrond en omstandighede, steeds uitblink as individue binne ’n groep,” sê sy.

Maar tussen al die stertswaaie en lekkerlag deur, het die dag onverwags ’n reddingsmissie geword.

Tokkie Aucamp, Paws Haven se bekende “oë en ore in die veld”, het weer kom rapporteer dat Blackie raakgesien is. Die jong hond het byna twee maande gelede verdwyn nadat sy saam met haar boeties en sussies na Paws Haven gebring is.

Die honde het die besoek baie geniet. Foto: Paws Haven

“Net voordat ons haar kon inneem, het sy uit die voertuig gespring en in die bosse verdwyn,” verduidelik Simoné.

Hoewel Blackie sedertdien verskeie kere opgemerk is, was sy slim genoeg om vanghokke en reddingspogings te vermy.

Luiperds haker, Jason Alexander saam met een van PAWS Haven se vriendelike gesigte.

Maar dié dag het alles verander.

“Ons het skielik net die regte mense daar gehad, manne met spoed, hande wat kan raakvat en ’n afrigter wat weet hoe om dinge te beplan,” vertel Simoné laggend.

En die rugbyspelers het glo nie twee keer gedink toe hulle van Blackie se storie hoor nie.

“Die oomblik toe hulle hoor van ons Blackie-dilemma, was almal gereed om te help.”

Met Tokkie wat al die hond se wegkruipplekke geken het en ’n hele Luiperd-span op die toneel, was dit nie lank voor Blackie se dae van rondswerf iets van die verlede was nie.

Die Luiperds besig om vir Blackie te soek. Foto: Paws Haven

“Hoewel Blackie dit dalk nou nie so voel nie, is sy eindelik veilig, warm en besig om weer krag op te bou,” sê Simoné.

Vir haar was die dag ’n perfekte voorbeeld van wat moontlik is wanneer ’n gemeenskap saamstaan.

“Dit was spanwerk tussen Paws Haven en mense uit ons eie gemeenskap. En Tokkie het gou besef die manne lyk nie net soos reuse nie,  hulle dra ook nie verniet die naam Luiperds nie. Sy moes behoorlik hardloop om by te bly!”

Die Luiperds-rugbyspan en Paws Haven se span na die reddingsmissie. Foto: Paws Haven

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button