PAWS red klein hondjie uit drein
Die voorval dien as ’n herinnering dat ’n enkele besluit ’n wêreld se verskil kan maak.
’n Weerlose hondjie wat in ’n modderige drein vasgesit het, is 14 Maart betyds gered nadat ’n bekommerde inwoner nie net verbygeloop het nie.
Volgens Paws Haven het ‘n inwoner die organisasie gekontak nadat sy op die vasgekeerde hondjie afgekom het. Die dier was vasgevang in vuil water en modder, sigbaar verskrik en hulpeloos.

PAWS se personeel, Michelle Swart en Tokkie (Harriette Aucamp) het onmiddellik gereageer en hul na die toneel gehaas. Met hul aankoms het hulle die hondjie steeds in die drein aangetref, bang en deurmekaar, met min kans om self los te kom.
Sonder om te huiwer het Tokkie self in die vuil drein ingeklim om die hondjie te bereik. Sy het die klei-besmeerde diertjie versigtig losgemaak en veilig uit die benarde situasie gehaal.
Volgens Paws Haven is dit juis dié toewyding wat reddings soos hierdie moontlik maak.
“Vir Tokkie is geen dier te klein, geen plek te vuil en geen redding te moeilik wanneer ’n lewe op die spel is nie,” het die organisasie gesê.
Die hondjie is intussen versorg en het warm en veilig met ’n vol maag gaan slaap.

Paws Haven het ook hul dank uitgespreek teenoor die inwoner en diegene wat by die toneel gebly het totdat hulp opgedaag het.
“Mense soos julle maak hierdie reddings moontlik,” het hulle bygevoeg.



