Potchefstroomse Mannekoor lewer uitsonderlike Paasfees-vertoning
Die Potchefstroomse Mannekoor het die Oorwinningslied saam met die orrelis, Jan Brak, opgevoer, wat een van die vele hoogtepunte was.
‘n Besondere inleiding tot 2026 se viering van die Paasgebeure het geskied by die NG Noord met die Mannekoor se Lam van God, onder aanvoering van Hilde Roos. Hierdie aanbieding op 22 Maart het ingesluit voorlesings, klavier, orrel, fluit en viool ondersteuning. Die koor is versterk deur lede van die NG Gemeente Carletonville se kerkkoor.
Die Lam-tema is ingelui met die bekende Net Soos ‘n Herder, gevolg deur die opdrag aan die Apostel Petrus: Feed My Lambs. Ook die bekende Kerslied, Wyl Herders by hul Kudde Wag kon gehoor word.
Die Lydens-tema begin met O Heer uit Bloed en Wonde gevolg deur Aanskou die Heiland en die emosionele Vasgenael aan die Kruis. Veral ook die geliefde Rock of Ages en ‘n treffende verwerking van Were you There in Afrikaans Sien Jy Hom is opgevoer. Dit word gevolg deur die sensitiewe Gebed [of, Ek Buig voor U] om die mens se ootmoed te weerspieël. Daarna die menslik-emosionele lied met die pragtige harmonië I Come to the Garden Alone, Die Lied van die Lam vertel die hele Paasverhaal en lui die Opstandings-tema in waarna die heilige Drie-eenheid deur klassiek- Latynse aanslag besing word met Gloria Patri et Filio. Die gehoor neem deel deur Ps 150 saam te sing asook die uitbundige Oorwinningslied wat aangevuur is deur die grootse orrelspel van Jan Brak en ook ‘n selfverwerkte naspel.
Dit word gevolg deur Ek Sien ‘n Nuwe Hemel Kom en die seënbede van John Rutter The Lord Bless You and Keep You.
Die gehoor en kunstenaars het almal getuig van die seën wat deur die aanbieding meegebring is, met deelname aan die eer aan God wat daaruit gevloei het



