Aanhouer wen!
Dit is hierdie mentaliteit wat die NWU in hul tuishalfeindstryd teen Maties op die Fanie du Toit-sportgronde op Maandag, 6 April, moet wys.
Die NWU sal goed gerat wees vir Maties nadat hulle vir Ikeys met 56-53 in ’n senutergende wedstryd geklop het. Dit het soos ’n tipiese uitklopwedstryd gevoel, met die NWU wat ’n wen moes behaal om ’n tuishalfeind te kon verseker. Andersins sou ’n wegwedstryd teen Maties op hulle gewag het. Nou kan die NWU rustig op tuisbodem vir hierdie yslike kragmeting teen Maties voorberei.
Die NWU het in die groepfase teen die Maroen Masjien met 30-26 vasgeval, maar dit was in Stellenbosch – nou is Maties in die NWU se nes.

Volgens NWU-hoofafrigter, Burger van der Westhuizen, is sy span gereed om voor die NWU se pers tuisskare nog ’n wen in die sak te steek.
Vir dit om te gebeur, is 80 minute van puik rugby nodig.
“Ons moet net twee tweede helftes speel. Die manier hoe ons teen Ikeys in die tweede helfte gespeel het, moet ons in albei helftes teen Maties speel,” sê Van der Westhuizen.
MJ Mostert, wat as plaasvervanger in die tweede helfte opgekom het, het die wedstryd vir sy span teen Ikeys met twee drieë gedraai.

Hy het eers ’n skop afgestorm in Ikeys se 22 en later goed ondersteun om die wendrie te druk en te verdoel. Mostert het aanvanklik binnesenter gespeel en toe na losskakel geskuif toe Ruan van Willing beseer is.
“MJ was briljant op 12 en 10. Hy het veggees, fisiekheid en honger na die veld gebring. Hy wou vir die span veg. Hy het ook kalmte gebring.”

Die NWU was met rustyd 20-39 agter teen Ikeys, en volgens Van der Westhuizen was daar ’n inligtingsgesprek oor waar sy span op daardie stadium gesukkel het.
“Daar was nie regtig harde woorde nie; dit was meer oor hoe ons moet speel om die bal te hou, minder foute te maak en meer dissipline te wys. ’n Span kan nie drie geel kaarte kry nie, dit is iets wat ons beslis sal aanspreek,” het hy genoem.
Die NWU Eagles se lywe is seer ná ’n fisiese stryd, maar hul gees is sterk vir die halfeindstryd.
Volgens NWU-kaptein, Stephan Krugel, sal die tuisskare ’n groot rol speel om dinge moeilik vir Maties te maak.
“Ons gaan van die begin af moet speel en alles gee en nie dinge tot op die nippertjie los nie. Die tuisskare maak ‘n groot verskil om ons nog meer te motiveer.”
Die wedstryd teen Maties skop om 16:45 op 6 April af.



