Telefoonhokkies in babaversorgingstasies by Potch Hospitaal omskep
Sr. Jonette Potgieter van Potchefstroom Hospitaal het flink gedink en 'n onbruikbare spasie in iets mooi verander.
Twee ou telefoonhokkies by Potchefstroom Hospitaal is onlangs omskep in baba-versorgingstasies. Stylvol en prakties, en kosteloos vanweë die samewerking tussen Pressed Ink Signs en CRC Potchefstroom. Wat eens vergete strukture was, is nou pragtige, funksionele ruimtes waar ouers hul kleintjies gemaklik kan versorg.
Sr. Jonette Potgieter, gehalteversekeringsbeampte by die hospitaal, vertel sy het ’n jaar gelede by haar kantoor verby die dameskleedkamers gestap toe sy ’n mamma gesien het wat ’n babadoek op die vloer moes ruil.

“Ek het gesien hoe vuil die vloer is. Alhoewel dit gereeld skoongemaak word, is dit steeds nie veilig vir ’n baba om daar sy doek te ruil nie,” vertel sy.
Sy het toe begin dink aan ’n oplossing.
“Ek het ’n baie besige brein,” sê sy. “Toe ek student was, was daar ou telefoonhokkies in die hospitaal. Dit was van daai waar jy ’n geldjie ingooi en die ring moes draai om ’n nommer te bel. Met die tyd is dit plek geword waar skoonmaakmiddels gestoor is. Net daar het ek ’n idee gekry.”
Sy het vir dr. Michael Shakung die plan gewys, baba-versorgingstasies in die ou hokke. Hy het goedkeuring gegee, en so het almal aan die werk gespring.

“Ons is lede van die CRC-kerk, en ek en my man het hulle hulp ingeroep. My dogter, die eienaar van Pressed Ink, het ook aangebied om te help,” sê Potgieter.
CRC het matrasse vir die kamers geskenk. Pressed Ink het die borde en deure versier, Potgieter se man het hout geskenk en die tafels ingesit, en die hospitaal het die dromme om doeke weg te gooi, verskaf. In die toekoms beplan hulle om ook handontsmettingsmiddel by te voeg.
“Dit is wonderlik om te sien hoe hierdie eens onbruikbare spasie nou deur mamma’s gebruik word,” vertel sy.

Die projek is nie net visueel treffend nie, maar ook betekenisvol. Tydens die openingseremonie het dr. Shakung beklemtoon hoe uniek die inisiatief is. Potchefstroom Hospitaal is tans die eerste en enigste hospitaal in die provinsie met sulke fasiliteite.
“’n Mens sien dit gewoonlik net by lughawens,” het hy bygevoeg.
Hierdie eenvoudige, maar impakvolle projek wys weer dat wanneer gemeenskappe hande vat, mooi dinge gebeur en soms begin dit alles by iets so alledaags soos ’n ou telefoonhokkie.




