Local newsNewsNews

Ontmoet vir Tokkie: Mooirivier se nuwe vreugdevolle gelukbringer

Tokkie is vandag voor 'n volgepakte skoolsaal bekendgestel. Hierdie seuntjie is slim, sportief en sy gunsteling woorde is "Ons Kan".

Daar is ’n nuwe seun wat by Laerskool Mooirivier ingeskryf het – hy is superslim, mal oor boereworsrolle en hy maak dat sy maatjies in hulself begin glo.

Dit is niemand anders nie as Tokkie – Laerskool Mooirivier se splinternuwe gelukbringer wat gaan seker maak dat hy ’n glimlag op elke Mooirivier-leerder se gesig bring. Hierdie gelukbringer is ’n seuntjie met ’n pet, oulike bril en ’n deftige onderbaadjie.

Laerskool Mooirivier se skoolhoof, mnr. Jakkie van Vuuren, het Tokkie tydens saalopening met ’n spesiale video aan die leerders bekendgestel.

Die leerders het nog lekker na die video gekyk toe Tokkie eweskielik in lewende lywe by die saal instap. Tokkies het geskree en gejuig, met baie wat nie hul opgewondenheid kon inhou nie.

Mnr. Jakkie het toe meer oor Tokkie gedeel en vertel dat hy baie liefde het om te gee. Hy het sy eie liedjie en is ook natuurlik mal oor Tokkies se skoollied.

Tokkie saam met Mooirivier se seuns. Foto: Wouter Pienaar

“Sy gunstelingwoorde is ‘Ons Kan’ en sy gunsteling-Bybelvers is Josua 1:9, want hy is sterk en dapper. Hy is jou vriend, grootste ondersteuner en hy is lief vir God,” het mnr. Jakkie aan die leerders vertel.

Sy woorde was skaars koud toe Tokkie lekker begin dans op Kurt Darren se Hop-Hop Spinnekop, terwyl die leerders lekker saamsing. Tokkie se dansbewegings was ook glad nie te versmaai nie.

Kyk die video hier:

Die graad eentjies kon nie wag om hom ’n drukkie te gee nie, met van die ouer grade wat vir foto’s gaan staan het of net ’n high five gegee het.

Volgens Rozelle Greeff, ’n graad 2-onderwyser by Laerskool Mooirivier, het die idee vir ’n gelukbringer verlede jaar ontstaan en kon Mooirivier ná baie beplanning besluit hoe die gelukbringer moet lyk. Daar is toe besluit op ’n seuntjie wat die waardes van die skool uitbeeld en ‘n figuur is wat die leerders mee kan vereenselwig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button