Opgradering van Bothastraat-rioolpompstasie beloof langtermyn-oplossing vir Potchefstroom
Die projek behels 'n totale opgradering van die pompstasie, wat volgens haar ongeveer 80% van Potchefstroom se riool ontvang.
‘n Omvattende opgraderingsprojek van die Bothastraat-rioolpompstasie in Potchefstroom is tans aan die gang en beloof om een van die stad se grootste en belangrikste rioolinfrastruktuur-uitdagings aan te spreek.
Volgens DA-raadslid Heinricha Hodgson van wyk 5, word daar sedert Februarie vanjaar hard gewerk aan die voorbereiding van die terrein, met die projek wat tot Februarie 2027 sal duur.
“Hierdie is ‘n fantastiese projek wat ongelooflik baie vir die ontwikkeling van Potchefstroom gaan beteken. Dit is ‘n reuse-stap in die regte rigting om die herhalende probleme in die omgewing hok te slaan en langtermyn-oplossings vir die gemeenskap te verseker,” sê Hodgson.
Die projek behels ‘n totale opgradering van die pompstasie, wat volgens haar ongeveer 80% van Potchefstroom se riool ontvang, insluitend riool vanaf die noordelike dele van die stad, asook Promosa en Ikageng.
Een van die grootste komponente van die projek is die opgradering van die volledige rioolpypleiding tussen wyk 5 en wyk 2 tot by Viljoenstraat. Daarbenewens sal ‘n groot meganiese skerm geïnstalleer word om afval uit die stelsel te filtreer voordat dit die pompe bereik.
“Die pompe word gereeld beskadig deur goed wat mense in dreine en toilette afgooi. Die nuwe meganiese skerm gaan help om die pompe te beskerm en die lewensduur daarvan aansienlik te verleng,” verduidelik Hodgson.
Die opgegradeerde stelsel sal oor vier pompe beskik, waarvan drie permanent in werking sal wees, terwyl een as reserwe beskikbaar gehou word.
Benewens die tegniese verbeterings, sluit die projek ook die bou van ‘n nuwe ablusieblok vir werknemers, ‘n sekuriteitshuisie en die volledige omheining van die pompstasie in.
Hoewel werk aan die pompstasie self nog nie begin het nie, word die terrein tans voorberei. Hodgson sê die kontrakteur het tydens voorbereidende werk op ‘n groot sementblok afgekom wat oopgekap moes word, wat die projek effens vertraag het.
“Dit het die kontrakteurs bietjie teruggesit, maar dit was eintlik ‘n goeie ontdekking. Nadat die sementblok oopgekap is, het hulle gevind dat riool binne-in die blok vloei, iets waarvan ons nie voorheen bewus was nie.”
Sy voeg by dat die projek ook ‘n positiewe bydrae tot plaaslike werkskepping maak.
“Wanneer werkers benodig word, word daar eers na inwoners van wyk 5 en wyk 2 gekyk. Indien die nodige vaardighede nie daar beskikbaar is nie, word mense elders in JB Marks aangestel. Geen mense van buite die JB Marks-gebied word gebruik nie. Dit tel beslis in die guns van werkskepping in Potchefstroom.”
Die opgradering volg jare van probleme by die pompstasie. In 2022 het die DA tydens ‘n oorsigbesoek bevind dat slegs een van die drie pompe in werking was en dat rou riool gereeld oorloop en omliggende gebiede besoedel. Destyds is kommer uitgespreek oor die impak op die Mooirivier, vleilande, landbougrond en die OPM Prozesky-voëlreservaat.
Lees die DA se vorige persverklaring hier.

Meer onlangs, in Augustus 2025, het die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit egter bevestig dat stilstaande water naby die pompstasie nie rou riool was nie. Laboratoriumtoetse het volgens die munisipaliteit getoon dat die water afkomstig was van terugvloei vanaf die Mooirivier tydens oorstromingsperiodes.
Lees die vorige berig hier.
Hodgson sê die DA monitor die huidige opgraderingsprojek noukeurig.
“Ons hou ons vinger op hierdie projek. Tot dusver is ons baie gelukkig met die kontrakteur. Die werk word betyds gedoen en daar is goeie kommunikasie. Dit gee vertroue dat hierdie belangrike projek suksesvol afgehandel sal word.”
Indien die projek volgens skedule voltooi word, kan dit ‘n belangrike keerpunt wees in die verbetering van Potchefstroom se rioolinfrastruktuur en die beskerming van die omgewing teen toekomstige rioolverwante probleme.



